Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 14/01/2011 – 11:51
Year A (2010-2011)
Bible Book: 1 Corinthians / 1 Korintiers
Chapter: 1
Verse: 1 – 9

Toe Paulus hierdie brief aan die gemeente in Korinte geskryf het, was daar ernstige probleme in die gemeente aan die ontwikkel. Om enkele voorbeelde te noem: Verdeeldheid, wat tot skeuring kon lei, was merkbaar (vgl (1:10-12). Hoewel een van die Christene ’n seksuele verhouding met sy stiefma gehad het (vgl 5:1), het die res van die gemeente niks gedoen nie. Sommige het ander Christene na die publieke hof gesleep (vgl 6:1). Sommige het geleer dat daar nie ’n opstanding uit die dood is nie – en daarmee impliseer dat Christus nie opgewek is nie (vgl 15:12).

Ten spyte hiervan begin Paulus sy brief deur die baie geestelike gawes wat die Korintiërs ontvang het, te erken (vgl v4). Hulle gawes van woorde en kennis het hulle ’n begaafde gemeente gemaak (vgl v 5). Paulus was seker dat God instaat sou wees om hulle end-uit te laat vasstaan, “sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie” (v8).

Paulus dank God vir sy genade in Jesus Christus vir hulle. Deur hierdie genade is die gemeente in Korinte verryk en sal die gemeente onderhou word. Paulus verheug hom oor die toekoms met Christus en saam met die Christene van Korinte (vgl v 8-9).

Dit is die ware identiteit van die Christene in Korinte: Hulle is deur God geroep om aan Hom toegewy te wees (v 2). Deur Jesus Christus is hulle heilig gemaak.

Deur hierdie positiewe aspekte van die Christen gemeente in Korinte te beklemtoon en hulle ware identiteit in Christus te erken, kon Paulus die ruimte vind om oor moeilike sake wat selfs kon seermaak, te praat.

Om oor na te dink (of te bespreek): Sien ons die genade van God in ons broers en susters se lewens en sy gawes aan hulle raak, of fokus ons op die foute wat ons waarneem?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *