Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 11:44
Year A (2010-2011)
Bible Book: 1 Corinthians / 1 Korintiers
Chapter: 10
Verse: 1 – 13
1 Korintiërs 10:1-13

Wanneer ons in ’n land waar die pandemie van MIV/VIGS geweldige afmetings aanneem Paulus se waarskuwings in 1 Korintiërs 10:1 –13 lees, kan dit maklik gebeur dat ons ooreenkomste begin raaksien tussen wat met Israel in die woestyn gebeur het en wat rondom ons gebeur. Israel het God se voorskrifte verwerp, teen Hom in opstand gekom en die gevolg was dat hulle in die woestyn (buite die beloofde land) gesterf het. Selfs al sou die prediker doelbewus vermy om die lyn van hoe God Israel gestraf het (deur hulle in die woestyn te laat sterf) na MIV/VIGS as God se straf te trek, is dit nodig om daarmee rekening te hou dat baie persone reeds by die Skriflesing hieraan mag dink. Die “interpretasie” van MIV/VIGS as oordeel of straf van God, kom algemeen voor.

Wie 1 Korintiërs 10:1 – 13 goed lees, sal besef dat dit hier juis oor die teendeel gaan. “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie,” waarsku Paulus in vers 12. Paulus se argument in verse 1 tot 11 is nie vir ons ’n (maat)staf in die hand om ander mee te meet (slaan) nie, maar ’n spieel vir selfondersoek. As lesers moet ons ontdek dat die posisie van “selftevredenheid” en “miskenning van eie kwesbaarheid” die gevaarlikste is. Dis asof Paulus in vers 5 sê: as God nie tevrede was met sy opstandige volk in die woestyn nie – hoe kan Hy tevrede wees met julle wat so selfversekerd is?

Verder is dit opvallend dat Paulus ’n (hele) lys maak van Israel se sondes: Afgodediens, onsedelikheid, om God te tart (“versoek” volgens die 1953 vertaling) en om teen God in verset te kom (“murmureer” – 53 vertaling). Dit gaan nie hier oor ’n enkele sonde as dié sonde wat God se oordeel en straf “aktiveer” nie, maar om sonde (lees ook versoeking) – in watter gestalte ook al – wat ons almal kan laat struikel.

Dis wonderlik om gedoop te mag wees en om aan die Nagmaaltafel te mag sit! Maar dis geen vrywaring van versoeking en struikeling nie. In ’n stukkende wêreld wat self ook sug (Rom 8:20 – 22) onder die verskriklike gevolge van Adam en Eva se keuse om God nie te gehoorsaam nie, is ons doop en nagmaalgebruik selfs nie eers ’n vrywaring van siekte nie. Ons troos is nie die wete dat ons “staan” nie, maar dat God uitkoms gee (vers 13).

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *