Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 07/05/2010 – 12:43
Year C (2009-2010)
Bible Book: Acts / Handelinge
Chapter: 16
Verse: 9 – 15

Onwillekeurig, met die lees van vers 13 (“Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort…”), het ‘n ander “riviertoneel” in my gedagtes opgekom: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei…” (Ps 137:1). Dit is duidelik uiters kontrasterende emosies wat deur hierdie twee tonele beskryf word: by laasgenoemde heers die simbool van ellende en desperaatheid as gevolg van ‘n ballingskap. In Hand 16:13, daarenteen, hoor jy die taal van afwagting: “…omdat ons gedink het daar sou ‘n Joodse bidplek wees”. Die een riviertoneel verteenwoordig die taal van hooploosheid. Die ander toneel … die taal van hoopvolheid.

Handelinge 16 is nie ‘n verhaal wat desperaatheid nie ken nie: eers word Paulus en sy reisgenote – deur die Heilige Gees – verhinder om in die provinsie Asië die Goeie Nuus te gaan versprei. Maar as dit ‘n tweede keer gebeur, die keer oppad Bitinië toe, moes dit – mensliker gewys – tog by hierdie sendelinge vrae wakker gemaak het: waarom blokkeer die Gees hulle telkens? As dit dan nog nie desperaatheid teweeggebring het nie, doen vers 9 dit beslis: in die visioen is daar ‘n man wat Paulus sméék: “Kom oor … en help ons.”

Dis hier wat ek wonder: wat het gemeentes nodig om die smeekoproep te hoor van mense rondom ons wat – net soos die man in Paulus se visioen – smeek: “Kom oor … en help ons”? Is dit nie dieselfde woorde wat ‘n kind sou smeek, as sy/hy skielik verantwoordelikheid moet aanvaar vir die kleiner kindertjies in die gesin, as beide ouers weens vigs gesterf het nie? Is dit nie die kreet wat ons hoor as statistieke ‘n immergroeiende pandemie uitbeeld nie?

Interessant hoe hierdie woorde “Kom oor … en help ons”, skielik die Heilige Gees se vorige blokkasies “oplig”: hier is die hulp nodig … gáán! ‘n Visie van ‘n Masedoniese pleitende bring ‘n sendeling en sy geselskap in beweging: “(ons het) so gou as moontlik gereed gemaak en …vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het, dat God ons geroep het …”.

Agter die Masedoniese Pleitende hoor Paulus-hulle ‘n Ander: Die Pleitende God! “Kom oor … en help ons”.

En dan die verrassing by die bidplek-by-die-waters (v13): ontvanklikes (in hierdie geval, vroue), gereed vir die werk van die Heilige Gees. Die groter verrassing: dié wat op die roepstem reageer, word die ontvangers van gasvryheid (v15 en 40).

As ons ons doof hou vir die smeking, bly gebrokenes en onversorgdes in die hooploosheid van “… daar het ons gesit, en ons trane het gevloei…”. Dis deur te reageer op die smeking, dat die onverwagte gebeur: hooploosheid verander in hoopvolheid. Ontvanklikes word dan die kerk se geskenk!

Om oor na te dink (of te bespreek): Die pleidooie van God aan die kerk (as mede-werkers van God) het deur die eeue nog nooit stilgeraak nie. In Suid-Afrika skep die konteks van MIV en vigs ‘n dringende pleidooi tot gelowiges. Wat sal kerke “mobiliseer” om, soos Paulus-hulle, te reageer met ‘n “laat ons onmiddellik gereedmaak en vertrek”?

Author: R Bezuidenhout (Dr)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *