Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 13:37
Bible Book: Habakuk
Chapter: 3
Verse: 1 – 19

Met die lees van die boek Habakuk is daar ‘n paar verse wat onmiddellik opval. Verse wat waarskynlik in baie gelowiges se Bybels ondersteep is. Byvoorbeeld:
– 2:4 – “Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (1953 vertaling).
– 3:17-19 – “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Die gevaar is dat wanneer ons hierdie “mooi verse” onderstreep het, ons dan telkens net hierdie verse lees sonder om aandag te gee aan die res van die boek Habakuk. Dan word hierdie boek, wat handel oor die profeet se eerlike worsteling met vrae van sy tyd met met die groot vraag oor God en lyding, afgeskeep.

Iets van so ‘n manier van “hantering van die boek Habakuk” gebeur maklik ook met ons “hantering van mense wat swaarkry.” Ons soek dié reaksies by mense wat vir ons mooi of aangenaam is. Solank mense wat swaarkry, blymoedig is; solank ons mede-glowiges wat beproewings beleef nog van hulle geloof kan getuig; so lank is dit vir ons goed om met hulle saam te stap. Maar wanneer die swaarkry hulle onderkry en beproewings alleen droefheid tot gevolg het (wanneer ons ook direk met hulle swaar konfronteer word) hou ons maklik verby. Soos iemand wat alleen die onderstreepte verse van Habakuk lees en dan vinnig omblaai.

Dis vanselfsprekend dat ons nie met ‘n oppervlakkige lees van die teks (die vassteek by ‘n paar “mooi verse”) kan volstaan nie. Ons sal moet erns maak met die profeet se hele storie, sy wag op God, sy sien van die verloop van die geskiedenis, sy verbasing oor wat hy as God se optrede beleef, sy verwondering oor die grootheid van God en daarmee saam hoe hy gegroei het tot vreugde in God ten spyte van sy omstandighede en tot geloofsoorwinning. Op ‘n “soortgelyke wyse” is dit vanselfprekend dat ons nie kan tevrede wees met ‘n oppervlakkige omgaan met mense wat swaarkry nie. Die liefde van Christus vra dat ons geduldig sal moet luister en dat ons bereid sal moet wees om saam te stap – al is die pad ‘n moeisame een.

Daar is heelwat in hierdie profeteboek oor onreg. In 3:3-15 word God beskryf word as die Een wat onreg kom straf. Daarom moet ons as lesers van hierdie boek vra: aan watter vorme van onreg maak ons ons skuldig? In die lig van wat reeds gesê is, behoort ons erns te maak met “ongeërgdheid oor mense se lyding” as ‘n vorm van onreg.

Wie met die gelowige Habahuk (wat die lied van 3:17-19 kon sing) “saam gestap het” – toe hy gekla het, toe hy oorweldig is deur dit wat hy gesien het, toe hy op God gewag het, toe hy na God se ingrype verlang het, toe hy oor God se ingrype oorweldig is – sal makliker met mense op ‘n lydingspad kan saamstap.

Hoe anders sou die verhaal van MIV en vigs (en die stories wat geïnfekteerdes vertel) in ‘n land soos Suid-Afrika – waar driekwart van die bevolking hulleself as christene beskou – nie gewees het nie as ons van die begin af groter erns gemaak het met mense se seerkry en swaarkry…

Author: (Unknown)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *