Submitted by Visitor (not verified) on Wed, 09/12/2009 – 11:02
Bible Book: Genesis
Chapter: 25
Verse: 1 – 13
Matteus 25:1-13

Dis duidelik dat hierdie gelykenis daaroor handel dat ons gereed moet wees. In vers 10 lees ons “Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit”. Die verstandige meisies was hulle wat gereed was toe die bruidegom arriveer.

Vir my is die verrassings element in hierdie bekende gelykenis waaroor baie gepreek word dat hulle wat nie gereed was nie toe die bruidegom kom, nie onkant betrap is omdat hy te vroeg ariveer het nie, maar omdat hy te laat gekom het.

Wanneer ek terugdink aan my eie ervarings van nie gereed wees nie, was dit gewoonlik óf omdat ek nie betyds gereed gemaak het vir die oomblik of gebeurtenis nie, óf omdat die oomblik, gebeurtenis of persoon gewoon vroeër was as wat ek verwag het. Daarom het die oproep “wees gereed!” gewoonlik die betekenis “berei betyds voor!”.

Maar dit is nie die waarskuwing van Jesus se gelykenis in Mat 25:1-13 nie. Al die meisies het hulle voorbereidings vooraf en betyds getref. Die probleem is dat die helfte van hulle nie gereed gebly het nie. Die bruidegom het nie te vroeg gekom nie, maar te laat. En dis waarom sommige van hulle nie gereed was nie.

Die gelykenis handel oor die belangrikheid daarvan om voordurend gereed te bly. Wees gereed – altyd! Hou aan om gereed te wees – selfs al sou jy aan die slaap raak. Om voorbereid te wees vir onverwagte vertragings, is deel van gereed wees. Neem in ag dat die pad langer, die werk meer uitputtend mag wees. Die roeping waarop jy geantwoord het, mag meer van jou vra as wat jy jou nou kan voorstel…

Daar is vir my ‘n kommerwekkende ooreenkoms tussen die waarskuwing wat ek in hierdie gelykenis hoor en wat ek binne die MIV pandemie waarneem. Dikwels hoor ek in gesprekke verwysings na “vigs moegheid” (Aids fatigue) en “afgestomptheid”. Kan dit wees dat baie Christene nie gereed is vir wat Christus van ons in hierdie tyd van MIV en vigs verwag – nie omdat dit te gou gebeur het nie, maar omdat dit al te lank met ons is?
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat beteken dit om te midde van MIV en vigs voortdurend gereed te wees vir Christus se wederkoms?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *