Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 11:39
Year A (2010-2011)
Bible Book: Deuteronomy / Deuteronomium
Chapter: 26
Verse: 1 – 11
Teks: Deuteronumium 26:1-11 (29/2/04)

Wanneer ons as Nuwe Testamentiese gemeente op hierdie Lydenssondag (ook genoem “invocati” = “hy roep aan”) die Here aanroep, kan Deuteronomium 26:1 – 11 ‘n riglyn wees wat sin en betekenis aan ons erediens gee.

Deut 26:1 – 11 is ‘n liturgie vir die dankbare aanroep van die Here wat Israel uit Egipte, die slawehuis, bevry het.

Deut 26:1 – 11 lê die gelowige, gehoorsame, dankbare Israeliet ‘n gepaste geloofsbelydenis in die mond. ‘n Belydenis wat die groot dade van die Here verkondig. ‘n Belydenis wat die Israeliet van latere geslagte help om hierdie verlossingsdade te onthou. ‘n Belydenis wat nie skaam is om te sê hoe die lewe vóór God se verlossing gelyk het nie. Die mandjie van oorvloed in die hand moet juis help om die dae van swaarkry en verdrukking te kontrasteer (vers 7). Deur hierdie verlossingsdade ken Israel hulle God as dié God wat onderdruktes se hulpkrete hoor en wat met “groot dade” red (vers 8).

Deut 26:1 – 11 gee aan die hand hoe hierdie dankbare aanroeping van God, die openbare belydenis van sy Naam, praktiese gestalte kan kry. Die mandjie met eerstelingvrugte word saamgeneem, dit word “voor die altaar van die Here” neergesit (vers 4 en 10b) en dit word saam met die Leviet en die vreemdeling geniet (vers 11).

Vir die Nuwe Testamentiese gemeente kry hierdie pragtige liturgie uit die vroë geskiedenis van Israel natuurlik nuwe betekenis, want ons is kruisgemeente. Ons bestaan is te danke aan die kruis van Christus. Ons bely Christus as die Een wat gekruisig is en wat lewe. Ons geloofslewe is dankbaarheid in woord en daad.

Die verlossing deur die kruis is vir ons wonderliker as die verlossing uit Egipte – dit sluit ons, hier aan die suidpunt van Afrika in! Die verlossing deur die kruis neem egter niks weg van dit wat Israel deur die verlossing uit Egipte moes leer en onthou en bely en vier nie. Ons Vader is nog steeds die Here wat die hulpgeroep van mense in nood hoor. Hy wil nog steeds dat ons ons verlossing met dankbaarheid en met mededeelsaamheid vier. Hy verwag ook van ons, soos van sy volk Israel om spesiaal vir die “vreemdelinge” onder ons om te gee. Soms kan hierdie vreemdelinge selfs bekendes en familie wees wat deur ‘n persoonlike krisis “weggedryf” het. Dikwels is die vreemdelinge hulle wat ons vermy en van wie ons net in die derde persoon praat. Hulle wat “na ons kom” in die skrikwekkende vigs-statistiek waarvoor ons ook al moeg is.

Kan ons as kruisgemeente se aanroeping van die Vader wat sy Seun aan die kruis vir ons gegee het, God eer as ons dankbaarheid geen vreemdeling insluit nie?

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *