Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 12:58
Bible Book: Genesis
Chapter: 42
Verse: 1 – 34
Teks: Genesis 42-44

Met die lees van hierdie deel van die Josefverhaal het die tyd wat Josef sy identiteit vir sy broers weggesteek het, my opgeval. Hy was onderkoning, maar om met die geheim oor wie hy werklik is, teenoor sy broers te leef, was ondraaglik. Dit het my laat wonder hoe mense wat met MIV leef, dit beleef om met hierdie werklikheid as geheim te leef. Ek het die vraag aan iemand wat ek bevoorreg is om te ken, gevra en is dankbaar dat hy my geantwoord het en dat ek dit my jou mag deel. Statistiek sê dat daar heel waarskynlik hierdie Sondag persone in die Erediens sal wees wat ‘n soorgelyke antwoord sal gee…

“Om met my geheim te leef…

Ek leef al soveel jare ‘n dubbele lewe, dat ek soms wonder of enigeen my regtig ken. Tog is dit maar ‘n skrale dertien jaar gelede dat ek my vir die MI-virus laat toets het. Dertien jaar sedert daardie dag toe ek die kyk in die dokter se oë verstaan het nog selfs voor hy my probeer verseker het dis geen doodsvonnis nie. Die tyd toe ek my intiemste familiekring moes inlig. Dis nie maklik om eerlik te wees nie. Selfs nou nog is ek skaam daaroor. Want elkeen wat dit hoor, weet wat ek gedoen het waar hulle my nie kon sien nie.

Tussen tóé en nóú, lê jare van wroeg. Baie verspilde jare van depressie en selfmoordpogings. Jare van worstel met selfaanvaarding. Jare van selfverwerping. Jare van sukkel om vrede te maak met wat hierdie ding – en ekself in die proses – aan my gedoen het: hier diep binne waar niemand kan sien nie, en ja, ook aan wat jy van my kan sien. Jare wat ook sy tol ge-eis het aan verminkte interpersoonlike verhoudings.

Wat doen dit aan my? Wat doen dit aan my geliefdes?

Om daaroor te kan praat, is onbeskryflik bevrydend. Nie net vir my nie. Ook vir elkeen wat hierdie las saam met my dra. Om daaroor te moet swyg, is swaar. Ek soek ‘n woord om dit mee te omskryf. ‘n Woord wat sal verduidelik hoe dit is om nie jou emosies te kan deel nie. ‘n Woord wat sal verduidelik hoe dit is om nie die waarheid te kan vertel nie – te lieg oor my ongesteldhede, die newe-effekte van die antiretrovirale medikasie, my handevol pille, my deurmekaar maag, my gewigsverlies, my vinnige veroudering, my grys hare. ‘n Woord om die soms grenslose eensaamheid te beskryf. ‘n Woord vir – soms – my woede. Soos wanneer ek in geselskap – waarom feitlik sonder uitsondering uit die mond van kerkmense? – moet hoor hoe mense soos ek deur mense sonder insig verdoem word. Dieselfde mense wat graag met stil tevredenheid hoor hoedat hulle van die kansel herinner word die straf op hulle sondes is in Jesus Christus uitgewis.

Want om met my geheim te leef, verarm ook die kerk. Dit ontneem gelowiges die geleentheid om uit my mond te hoor van die Here se onmeetlike genade in my lewe. Van hoe Hy die laaste dertien jaar voor my uitgetrek het, die paaie vir my gelykgemaak het. My teen die steiltes ondersteun het. Van hoe die Here voorsien. Van hoe ons Hom regtig met ons lewens, ons álles kan vertrou.

Die swye is swaar. Dit soek ‘n woord om dit mee te beskryf. Ook vir elkeen wat deur my virus geaffekteer word. Nes ek, kan hulle nie maklik vergeet van hierdie ding nie. En met wie praat jy daaroor? Dit kos jou selfs vriendskappe…

My vrou kan dit nie met haar vriendinne deel nie. My ma kan dit nie met haar beste vriendin óf haar Bybelstudievriendinne deel nie. My kinders kan dit nie met hulle maats bespreek nie. So mis hulle uit op enige moontlike vertroosting van mense wat omgee. So verbeur hulle die volle warmte van die geloofsgemeenskap. So word hulle lewens deel van hierdie donker geheim. So verwyt hulle my… So sit hulle vasgevang tussen hulle omgee vir my en hulle kwaadwees vir my. So gaan kosbare moontlikhede verlore.

Hoe graag sou ek wou dat ook vir my, vir ons, Sondag van die kansel gebid word soos vir al die ander siekes in die gemeente by die naam gebid word. So graag sou ek ook wou dat iemand belangstellend sou navraag doen oor ons behoeftes. Soms net jou hand sou druk.

Maar hulle weet nie. Hulle mag nie weet nie.

As hulle weet, reageer hulle dalk ook soos die vriend vir wie ek twee maande gelede vertel het. Ek het nog nie weer ‘n woord van hom gehoor nie. En ek’s gewoon te bang om nou van my kant kontak te maak. Ek wil dit nie uitgespel hoor nie. Ek wil nie weet hy sien nie kans om hierdie las saam met my te dra nie. Ek wil nie weet hy sien nie verder kans om met my geassosieer te word nie. Ek is bang sy swye spel …verwerping.

Ek leef met my geheim. Ons leef met ons geheim.

Noudat jy weet: Sien jy kans vir ons geheim? Is jy bereid om te werk aan ‘n geloofsgemeenskap waar ons sal kan waag om, sonder vrees vir veroordeling en verwerping, ons seer met die res van die Here se kinders te deel? Dit sou die las veel meer as net halfeer… Dit sou beteken ons dra mekaar se laste. Wanneer jy uiteindelik besef: my geheim affekteer ook vir jou.”

Author: (Unknown)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *