Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 13:39
Bible Book: Habakuk
Chapter: 1
Verse: 50

Ons hoor van tyd tot tyd die oproep dat die kerk haar profetiese roeping moet nakom. Gewoonlik word daarmee bedoel dat die kerk nie moet skroom om onreg uit te wys en diegene wat onreg pleeg, aan te spreek nie. Habakuk is egter ‘n profeet wat hierdie “profeties roeping” op sy kop draai. Habakuk kla God aan vir die onreg wat plaasvind en skynbaar ongestraf bly. Selfs wanneer een groep se onreg gestraf word, bring ook dié proses nog meer onreg na vore en ook hieroor kla die profeet by God.

Habakuk se profetiese worsteling met God is nie ‘n akademiese oefening nie. Sy profetiese hart klop in sy identifisering met diegene wat onreg ly. Sy vrae en worsteling met God vind plaas terwyl hy volledig identifiseer met die lydendes. As dit waar is dat Habakuk ‘n amptelike tempelprofeet was, is hierdie posisie wat hy inneem (lees = keuse wat hy maak) soveel te meer merkwaardig. Dit is vandag nog vreemd dat persone wat gemaklik leef en deur sosiale en politieke strukture bevoordeel word, met hulle wat die teenoorgestelde beleef, identifiseer. Die afgelope tyd is Beyers Naudé vereer, maar toe hy as jong predikant standpunt ingeneem het, was dit vir die meeste van sy tydgenote onverstaanbaar.

Habakuk se worsteling met God (1:2-4) roep ons op om ‘n slag met oop oë na ons gemeenskap (dorp/ streek/ land) te kyk. Nie om teenoor mekaar te kla oor alles waarvan ons nie hou nie (dit doen ons genoeg!) maar om te sien wie die mense is wat werklik ly en om namens hulle voor God te kom staan. Om as’t ware in die lydendes se skoene na God te kom. Om “soos Habakuk” na God te roep en met Hom te worstel. Die uitdaging van so ‘n oefening sal wees om nie vas te steek by dit wat die gemeente raak nie, maar om uit te kom by dit wat die hele gemeenskap raak. Om te identifiseer met diegene wat die “seerste” kry.

Prakties beteken dit dat die gemeente Sondag erns sal maak om die nood van mense voor God te verwoord. Dit kan met sang gedoen word. Dit moet in gebed uitdrukking vind.

Wat die inhoud van so ‘n proses sal wees, mag van plek tot plek verskil. Die een element wat egter dwarsdeur ons land ons aandag behoort te kry, is die omvang en impak van MIV en vigs.

Die gebed hieronder is “na luid van” Psalm 88:2-11 en Habakuk 1:2-3.

Here, ons God, U wat altyd help, ons bid tot U.
Hoor tog ons gebed, hoor dit in Jesus se Naam.
MIV en vigs het swaar op ons land kom lê.
Vir baie is dit té swaar:
soveel wat sterf;
soveel wat kragteloos is in die skaduwee van die dood.
Dis asof die lyn tussen lewe en dood uitgevee word.
Om dit te aanskou, is al te veel –
Om dit te ervaar, is te erg!
Dit voel soos om in ‘n put te val –
Dit voel of dit U is wat straf –
Ja, dit voel of u ons oor en oor slaan!
Dit maak ons eensaam:
mense word bang en skaam.
Geliefdes word soos vyande.
Dit sluit ons toe in ‘n tronk sonder hoop.
Here, ons roep soos blindes wat na lig verlang.
Ons roep soos dooies wat na lewe verlang.
Waarom dan, Here?
Hoe lank nog, Here?
Voordat U hoor, voordat U red?
Here, ons God, U wat altyd help, ons bid tot U.
Hoor tog ons gebed, hoor dit in Jesus se Naam.

Amen.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *