Submitted by Visitor (not verified) on Wed, 09/12/2009 – 10:38
Bible Book: Genesis
Chapter: 2
Verse: 1 – 12

Teks: Markus 2:1-12

Hierdie Sondag is die laaste Sondag van die weke tussen Epifanie en Verheerlikingsondag. Die langer Epifanie-tyd het ‘n ryke verskeidenheid van betekenisse en toepassings. In aansluiting by die gedagte dat “Epifanie” letterlik “bekendmaking” of “verskyning” (manifestation) beteken, kan ons aan die Epifanie-tyd dink as die tyd wat die kerk stilstaan by die verskyning van die Christus as mens. Daarom is Markus 2:1-12 ‘n gepaste teks om hierdie tyd mee af te sluit. Hier sien ons Jesus aan huis (waarskynlik in Petrus se huis) omring deur ‘n skare mense met wie Hy in gesprek is (vers 2). Hy vergewe ‘n verlamde man se sonde en genees hom. Hy tree met onvoorwaardelike liefde op, al lei dit tot die fariseërs se afkeuring. Dit val op dat Markus hier aanteken dat Jesus Homself die “Seun van die mens” noem (vers 10).

Die verhaal van die vier vriende wat die verlamde na Jesus bring, is ‘n gewilde kinderbybel verhaal en daarom een van die bekendste verhale uit die evangelies. Tog bly dit ‘n aangrypende verhaal van omgee en hulpvaardigheid. Kyk gerus weer na hulle dapperheid, volharding, geloof en slim planne. In die optrede van die vier vriende sien ons menslikheid as mede-menslikheid. Stel jou voor wat hierdie verlamde ervaar het deurdat vier persone hom kom haal en dra om gehelp te word!

Wat het die vriende inspireer om so op te tree?

Ek wil my voorstel dat dit méér was as net die boodskap “hier is ‘n man wat siekes gesond kan maak!”. Kan dit wees dat hierdie vier vriende éérs self kontak met Jesus gehad het – dat hulle na sy woorde geluister het – dat hulle Hom sien optree het? Dat hulle deur sy menswees en die manier wat Hy met mense omgegaan het, geïnspireer is om self ook so op te tree? Dat Jesus se mede-menslikheid hulle inspireer het om iets omtrent hulle verlamde vriend se nood te doen?

Al kan hierdie vermoede nie gekontroleer word nie, kan ‘n mens ten minste sê dat Jesus se teenwoordigheid in die gemeenskap en sy optrede, by hierdie vriende hoop laat ontvlam het. Hulle het besef daar bestaan ‘n moontlikheid dat hulle verlamde vriend gehelp kan word. Hierdie hoop het hulle motiveer om die verlamde na Jesus te dra en om selfs die dak van die huis oop te breek en so seker te maak hulle vriend in nood gehelp word.

Luister ‘n mens na die verhale wat mense vertel wat met MIV leef, kan jy nie anders as om te bid: Here, leer ons wat medemenslikheid beteken! Inspireer ons deur die voorbeeld van Jesus. Beweeg ons deur die hoop wat U in ons harte uitstort. Amen.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *