Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 14:14
Bible Book: Hebrews / Hebreers
Chapter: 12
Verse: 18 – 29
Teks: Hebreërs 12:18-29

Hebreërs 12 bevat ‘n hele aantal terme wat gevoelens van vrees en wanhoop by die vlugtige lees oproep: “teen die sonde weerstand gebied” (v.4); “slap hande en lam knieë” (v.12); “‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (v.14).

In ‘n wêreld wat reeds lyk asof dit onder ‘n gevoel van moedeloosheid aan die instort is, help hierdie verse nie juis om vir ons ‘n beter blik op die toekoms te gee nie. Ten spyte van die pogings van verskeie organisasies om die tsoenami van MIV en vigs te stuit, dui die realiteit daarop dat die meeste van hierdie maatreëls tevergeefs is.

In die Ou Testament het die Israeliete dikwels met hierdie gevoel van moedeloosheid te doen gehad. Dit het vir hulle gelyk asof hulle God ‘n God van swaarkry en die dood is. Toe God Homself by die Berg Sinaï aan hulle openbaar, was die mense oorweldig deur vrees. Die beskrywing in die Ou Testament van wat gebeur het, is selfs nog meer ontsagwekkend as die woorde in Hebreërs 12:18-21. Die berg was aan die brand en rook het dit onmoontlik gemaak om enigiets te sien (Deut. 4:11-12). Daar was donderweer, weerlig en ‘n donker wolk (Eks.19:16-21), en toe God praat, het Hy dit deur donderweer gedoen. Niemand is toegelaat om aan die berg te raak nie – selfs ‘n dier wat aan die berg geraak het, moes doodgemaak word. ‘n Gevoel van absolute wanhoop en vrees het die Israeliete gevul, want hulle het geweet dat hulle kanse om te oorleef, so te sê nul was.

Maar in teenstelling hiermee, word ‘n ander beeld van God in Hebreërs 18:22-24 geopenbaar. Die gelowiges word uitgenooi om God te ontmoet wanneer Hy Hom by die Sionsberg openbaar. Dis is natuurlik ‘n eskatologiese siening wat die gelowige nooi om, ten spyte van die omstandighede, ten spyte van gevoelens van wanhoop en vrees, na God toe te gaan.

Daar is tye wanneer ons besef dat al die pogings om ‘n verskil in ons gemeenskappe te maak, uitgeput is. Dit gebeur, byvoorbeeld, wanneer jy langs die bed staan van ‘n meisie wat in die fleur van haar lewe moes wees, maar wat besig is om dood te gaan as gevolg van vigs. Die vrees en wanhoop in die oë van so ‘n persoon kan niemand onaangeraak laat nie.

In hierdie omstandighede moet ons die hand van so ‘n persoon kan vat en hom of haar kan lei na “Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel” (vers 24).

Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe help die hoop in Jesus as ons Middelaar ons in ons stryd teen MIV en vigs?

Author: A van Wyngaard (Dr)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *