Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 14:07
Bible Book: Hebrews / Hebreers
Chapter: 12
Verse: 1 – 3
Teks: Hebreërs 12:1-3

Sondag 21 November is die laaste Sondag van die kerkjaar. Dit staan ook bekend as Sondag van Jesus die Koning. Dit behoort nie moeilik te wees om op hierdie Sondag Hebreërs 12:1-3 te preek nie. Byvoorbeeld:
* Hier aan die einde van die jaar is ons almal vodde gejaag en het die meeste van ons die Skrywer van Hebreërs se bemoediging aan die “deelnemers op die baan” om end-uit te volhard, nodig.
* Die beskrywing van Jesus as “die Begin en Voleinder van die geloof” gee aan die prediker die geleentheid om die gemeente se aandag op Jesus as ons Koning te vestig.

Wat egter nie so maklik en vanselfsprekend is nie, is wat die skrywer bedoel met “die wedloop wat vir ons voorlê” waarin ons moet volhard? Wanneer gebeur dit dat ons “geestelik moeg word en uitsak”?

Hierdie uitdrukkings hang sekerlik saam met hoofstuk elf wat oor die geloof handel. Maar is dit bloot net die “wedloop van die geloof” – om (maar net) die geloof te behou? Of gaan dit om te volhard (getrou wees) in ‘n lewenswyse wat deur hierdie geloof in God bepaal (gerig) word? Wanneer met hierdie vraag in gedagte weer na hoofstuk elf gekyk word, val dit op dat die skrywer telkens beklemtoon hoe die “geloofshelde” se geloof in hulle lewens, hulle keuses, hulle doen en late gestalte gekry het. Abel bring ‘n offer (vers 4), Henog het geleef soos God dit wou (vers 5), Noag het ‘n ark gebou (vers 7), Abraham het weggetrek en in ‘n vreemde land gaan woon (verse 8-10), Moses se ouers het hom teen die koning se bevel in weggesteek (vers 23), Moses het hom met die Israeliete wat slawe was, geïdentifiseer terwyl hy as prins kon lewe (verse 24-25) – om ‘n paar voorbeelde te noem.

Vir die skrywer van Hebreërs is “geloof” veel meer as ‘n innerlike belewenis. Dit word verder bevestig wanneer na na sy laaste vermanings in hoofstuk 13 gekyk word. (Lees ten minste 13:1-9!)

Die wedloop van die geloof het alles te make met ons roeping (worsteling) om ons geloof daagliks konsekwent uit te leef. Die offers wat ons bring (soos Abel) die keuses wat ons maak (Abraham, Moses se ouers, Moses) ons gasvryheid (13:2) ons houding teenoor gevangenis (13:3) ons lewe teenoor ons huweliksmaat (13:4), hoe ons met geld werk (13:5), ensovoorts. As ons hierdie gedagtelyne deurtrek na ons tyd, ons land en sy mense, het dit sekerlik ook te make met ons betrokkeneheid by die grootste krisis (lees=uitdaging) wat ons land nog beleef het: Dat meer as een uit elke tien mense in ons land reeds met MIV geïnfekteer is; dat die getal kinders wat wees gelaat is, reeds meer as ‘n half miljoen is.

Wanneer ons hierdie “jaarwending van die kerkjaar” opgeroep word om met die oog gevestig op Jesus in die geloofswedloop te volhard – is dit belangrik om te onthou dat die “baan” waarop ons hardloop veel meer is as die kerkbanke waarop ons Sondae sit – die “baan” loop deur die wêreld waarin ons Maandag en elke dag leef.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *