Bible Book: Genesis
Chapter: 40
Verse: 1 – 23
Verse (to):
Teks: Genesis 40
Genesis 40 is ‘n onderdeel van die groter verhaal (hoofstuk 39 – 41) wat vertel hoe Josef in Egipte as slaaf verkoop is, maar later onderkoning geword het. As daarop gelet word dat die eerste en laaste verse van hoofstuk 40 ‘n inleiding en afsluiting vorm, vind ons hier ‘n verhaal in eie reg. Die skinker verskyn op die toneel (vers 1), hy leer Josef ken, word deur Josef gehelp, gaan terug na die Farao waar hy vir Josef kan voorspraak doen, maar vergeet van Josef (vers 23: “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet”). Daarom moet Josef nog twee jaar in die tronk sit.
 Later (in hoofstuk 41) ontdek ons dat God ten spyte van die skinker se vergeetagtigheid vir Josef onthou en daarom ten spyte van mense se ontrou getrou bly. God was getrou aan Josef, maar intussen moes Josef op God wag.
Om te wag, is vir niemand maklik nie. Vir mense wat met MIV leef, kry “wag” ‘n totaal nuwe (intense) betekenis – dit word bewustelik deel van hulle daaglikse lewe: “Die wagtyd is ‘n vreemde tyd wat vir almal verskillend loop, maar waartydens mens baie dinge moet deurwerk en moet ontdek en met baie dinge moet vrede maak. Maar uiteindelik is dit ook ‘n verskriklike aleen-paadjie. In hierdie wag-periode – niemand weet hoe lank dit sal wees nie, en dis maklik vir ander om te sê dis nie meer ‘n doodsvonnis nie want daar’s ARV’s (net, die virus is slinks) – in hierdie wagperiode, ánderkant al die ander 5 fases van Kübler-Ross (maar met terugvalle daarin), het mens oneindig nodig om te weet jy word onthou. Onthou deur Een wat my liefhet en nooit vergeet nie. Feit is: Mense is feilbaar. God nooit.”
Wanneer Genesis 40 in die gemeente gelees word, sal ons moet onthou dat daar persone sal wees wat met MIV leef en daarom nodig het om te weet dat God hulle nooit vergeet nie.
Die “res van die gemeente” kan nie ongestoord voorgaan asof dit hulle nie raak nie. Daarom sal dit (vir hulle) goed wees om na hierdie hoofstuk te luister vanuit die perspektief van hoe Josef dit waarskynlike beleef het. Vers 23 moet dan saam met vers 15 gelees word.: “Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie”.
‘n Baie belangrike aspek van die Christelike geloof is om te onthou. Om God se wonderlike verlossingsdade te onthou. Om God se beloftes te onthou. Daarom moet ons so dikwels daaraan herinner word. Ons moet onthou om te onthou en vergeet om te vergeet.
Maar wat sal dit help as ons God se dade en beloftes onthou, maar ons vergeet ons eie beloftes? Of ons vergeet ons medemense in nood? Wat sal dit help as ons vir mense in nood vertel dat God onthou, maar ons vergeet self om ‘n vinger te verroer (vgl Jakobus 2:16)? Daar is vir mense in nood wonderlike troos in die verhaal van Josef wat ten spyte van mense se onreg en vergeetagtigheid deur God onthou is. Dié troos is egter om die mense in nood te bemoedig – nie om die mense wat dalk iets omtrent die nood sou kon doen, passief te maak nie.
Die organisasie Worldaidscampaign wat leiding neem ten opsigte van die beplanning van Wêreldvigsag (1 Desember) het besluit dat die tema vir 2005 “keep the promise” moet wees. Die rede agter hierdie tema is dat daar reeds in 2001 wonderlike besluite en beloftes oor die stryd teen MIV en vigs deur spesiale sittings van die Verenigde Nasies geneem is, maar vier jaar later het wynig hiervan al gerealiseer. As mens na ons eie land kyk, is daar verskeie kerke wat wonderlike verklarings oor MIV en vigs gemaak het en strategieë uitgewerk het – maar hoeveel hiervan het al realiseer?
Is dit moeilik om te verstaan hoe die skinker, wat saam met Josef in die tronk was, hom so gou kon vergeet? Ek vind dit nie moeilik nie, want ek weet hoe maklik ek afgestomp en gewoond raak aan die nood van my medemens.
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *