Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 15:15
Bible Book: Jeremiah / Jeremia
Chapter: 32
Verse: 1 – 15
Teks: Jeremia 32:1-3a; 6-15

Dis wat die jaar 587 voor Christus. Later in hierdie jaar sou die ballingskap van die mense van Juda begin. Hulle was reeds deur die vyand omring en die profeet Jeremia was onder huisarres geplaas. Hy is daarvan aangekla dat hy net slegte nuus verkondig en self profeteer het dat koning Sedekia as gevangene na Babilon geneem sal word.

Jeremia het nie ‘n vals, pessimistiese boodskap gebring nie. Hy was instaat om die werklikheid van die mense van Juda in die oë te kyk en om hulle voor te berei vir wat sou gebeur. Maar Sedekia en die ander wou nie die feite erken nie. In ons tyd is daar ook mense wat nie kans sien om die werklikheid in die oë te kyk nie. Terwyl die vigspandemie geweldige afmetings aanneem, is daar steeds mense wat die feite ontken. Hulle raak kwaad – soos Sedekia – wanneer hulle gewaarsku word – hoe mense hulle eie en ander wie hulle liefhet se lewens ruïneer en hoe duisende daagliks as gevolg van hierdie pandemie sterf. Dis nodig om na hierdie waarskuwing te luister.

Daar is ook ‘n merkwaardige boodskap van hoop in hierdie gedeelte. Hanámeël, ‘n familielid van Jeremia, het na hom gekom met die aanbod om sy grond by Anatot in die gebied van Benjamin te koop. In die lig daarvan dat Jeremia onder huisarres was en die ballingskap onvermydelik was sou dit geen sin maak om hierdie grond te koop nie. Tog doen Jeremia juis dit. Na die koop gefinaliseer is, gee hy die kontrak vir Barug met hierdie woorde: “’So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in ‘n kleipot sodat hulle lank kan hou, want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’
” (14-15).

Die boodskap is duidelik: die mense van Juda sal nie vir altyd in ballingskap bly nie. Die tyd sal aanbreek wanneer hulle weer na hulle land sal terugkom en in vryheid sal leef.
Dis maklik om pessimisties te word te midde van die huidige wêreld gebeure. Wanneer ‘n mens die ernstige gevolge van MIV en vigs raaksien kan die jou moedeloos laat voel. Maar ons kan die hoop behou dat dit nie die laaste woord is nie. Al voel ons ook of ons die einde van die pad bereik het, kan ons weet dat God steeds nuwe moontlikhede kan skep. Daarom kan ons die toekoms, wanneer MIV en vigs nie meer ‘n bedreiging vir ons sal wees nie, met hoop tegemoet gaan.

Om oor na te dink (of te bespreek):
1. Hoe kan ons mense help om die werklikheid van MIV en vigs in die oë te kyk?
2. Hoe kan ons hoop vir die toekoms ten spyte van hierdie realiteite?

Author: A van Wyngaard (Dr)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *