Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:13
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 18
Verse: 9 -14
Lukas 18:9-14

’n Eerste lees van die gelykenis van “die fariseër en die tollenaar” kan die indruk skep dat dit hier oor teenstellings gaan. Die fariseër skyn byna die teenoorgestelde van die tollenaar te wees. Hy is godsdienstig, leef eerlik en volgens die wet (vers 11). Hy vas en gee offers meer as wat die wet voorskryf (vers 12). In teenstelling met hom het die tollenaar net een eienskap: dié van sondaar (vers 13).

Maar daar is nog ‘n teenstelling: Die fariseër, wat so regverdig voorkom, is eintlik net self-geregverdig en daarom nie geregverdig deur God nie. Aan die ander kant gaan die tollenaar, wat sy sonde bely, huistoe as geregverdig deur God.

Wanneer ek die gelykenis nog eens lees, lyk dit vir my dat Jesus ons hier ‘n ander perspektief bied op wat gebeur. Hoewel dit lyk of dit ‘n situasie van kontraste is, gaan dit in werklikheid om: “twee mense het na die tempel gegaan om te bid” (vers 10a). Dit is wat gebed, om na God te gaan, wesenlik is: mense in die teenwoordigheid van God – niks meer nie en niks minder nie.

Die probleem is dat die een persoon (die fariseër) nie bewustelik voor God staan nie. Volgens sy gebed staan hy teenoor hierdie “ander” persoon. Wanneer hy sy lewe met dié van “die ander” se lewe vergelyk, kan hy nie anders as om homself te verhef as “meer regverdig as die ander” en terselfdertyd “die ander” te veroordeel nie. Deur dit te doen, plaas hy homself buite die ruimte van God se genade.

Die neiging om jouself met ander te vergelyk, om te roem in wat jy dink jy in jou eie lewe sien en om die ander te veroordeel volgens wat jy in hulle lewens waarneem, is ‘n altyd-teenwoordige gevaar vir alle Christene. Die verhaal van die vigspandemie vertel dat dit so maklik gebeur. Té maklik dink Christene dat MIV en vigs ‘n lyn tussen “ons” en “hulle” trek. Té maklik aanvaar Christene dat mense wat met MIV leef, die “sondaars” is.

Ek dink hierdie gelykenis daag ons uit om van ‘n “ons-hulle denkwyse” na ‘n “ons-mense-voor-God denkwyse” te beweeg. Dit geld wanneer ons bid en dit geld wanneer ons op die vigspandemie reageer.

Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons voorkom dat ons in die slaggat van self-geregtigheid val?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *