Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:05
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 5
Verse: 12 – 16
SKRIFLESING: Lukas 5:12-16
LOFSANG: LB 201:1-3
SLOTSANG: LB 523:1, 3 & 4

Geliefdes in die Here,

Op 11 September 2001 is die hele wêreld tot stilstand geruk toe die berig oor elke bestaande nuuskanaal gebeeldsend is van twee vliegtuie wat in die Twin Towers in Amerika vasgevlieg het. Na aanvanklike berigte van ‘n dodetal wat selfs in die tien-duisende kon wees, het die getal mettertyd gestabiliseer op ‘n syfer wat selfs vandag nog nie 100% vasgestel kon word nie, maar na alle waarskynlikheid ongeveer 3000 mense is wat op daardie rampspoedige dag in New York gesterf het. Onlangs is die gebeurtenis opnuut weer in herinnering geroep tydens die vierde herdenking van hierdie ramp.

Op 26 Desember 2004 is die wêreld weer eens geskok deur ‘n ramp van ‘n ander formaat, toe ‘n aardbewing wat 9,15 op die Richterskaal gemeet het, Sumatra in Indonesië getref het en ‘n vloedgolf tot gevolg gehad het wat uiteindelik gelei het tot die dood van 275 000 mense in elf verskillende lande.

Op 29 Augustus vanjaar tref Orkaan Katrina die suide van die VSA en ongeveer 1000 mense sterf in die vloed wat volg nadat die dyke meegegee het wat vroeër gebou is met die oog daarop om New Orleans van die see te beskerm.

Op 8 Oktober het ‘n aardbewing verskeie lande getref, waaronder Pakistan en volgens CNN is minstens 20 000 mense oorlede.
Elkeen van hierdie gebeurtenis is ‘n ramp. Elke persoon wat daar gesterf het, laat ‘n familie en vriendekring na wat vir die res van hulle lewe met pyn sal terugdink aan die ramp wat plaasgevind het.
En tog, as ons die omvang van elkeen van hierdie rampe sou bekyk, trouens, selfs al sou ons die omvang van elkeen van hierdie rampe afsonderlik bymekaar tel, dan is dit, hoe tragies ook al, byna onbeduidend, gemeet aan die tragedie wat besig is om op ons eie voorstoep af te speel.

In die terroriste-aanval van 11 September, het bykans 3000 mense gesterf. Voordat hierdie dag, Sondag 16 Oktober 2005, verby is, sal meer as dubbeld soveel mense iewers in suidelike Afrika sterf – nie as gevolg van ‘n terroriste-aanval uitgevoer deur militante Moslems nie, maar as gevolg van ‘n terroriste-aanval van ‘n virus, ‘n virus so klein, dat dit nie met die blote oog gesien kan word nie. In totaal sal meer as 8000 mense vandag iewers in die wêreld doodgaan, nie van ouderdom of natuurlike oorsake nie, maar as gevolg van ‘n siekte-toestand wat in elke raadsaal in die wêreld bespreek word, wat by elke mediese universiteit nagevors word, die toestand wat in Afrikaans amptelik bekendstaan as MIV/VIGS.

As dit nie die waarheid was nie, sou VIGS ‘n uitstekende tema kon vorm vir ‘n Hollywood spanningsfilm. ‘n Virus ontstaan op een of ander manier en ‘n hele land soos Suid-Afrika word deur hierdie virus geïnfekteer. Uiteindelik sterf elke persoon in die land. Die tragiese is dat dit presies die waarheid is – aan die einde van verlede jaar was 40 miljoen mense wêreldwyd – soveel mense as wat in Suid-Afrika woon – reeds MIV-positief gewees. Elkeen van hulle gaan sterf – weliswaar nie almal op een slag nie, maar vandag ‘n paar duisend en môre ‘n paar duisend. Wêreldwyd het drie miljoen mense verlede jaar gesterf as gevolg van VIGS en in sub-Sahara Afrika, wat lande insluit soos Suid-Afrika, Swaziland, Lesotho, Botswana, Zimbabwe, Malawi, Mosambiek en Zambië, het byna twee-en-‘n-half miljoen mense verlede jaar gesterf as gevolg van VIGS. En intussen groei die aantal geïnfekteerdes jaarliks met minstens 5 miljoen.

Gelukkig is daar een stukkie goeie nuus vanoggend. Ek is veilig! Hierdie situasie het niks met my uit te waai nie! Reg? Is dit nodig dat ek antwoord? Is dit hoe Jesus sou gereageer het as Hy vandag hier op aarde geleef het? Ek glo nie. Nee, kom ek druk dit sterker uit – as Jesus vandag op aarde was, sou ons Hom waarskynlik vanoggend nie eens in ‘n kerkgebou gevind het nie, maar eerder in die hospitaal of dalk iewers in ‘n township, besig langs die bed van ‘n man of ‘n vrou of ‘n kind wat sterwend is vanweë VIGS.

Iemand het eenmaal ‘n boek geskryf met die titel: AIDS – the leprosy of our time? – VIGS – die hedendaagse melaatsheid?

In baie opsigte is daar groot ooreenkomste tussen melaatsheid en VIGS. Natuurlik is daar ook enorme verskille, maar ek dink dis belangrik dat ons eers die ooreenkomste raaksien. Kom ons probeer ons net vir ‘n oomblik indink hoe dit moes wees om melaats te wees in die Bybelse tyd.

‘n Man word een oggend wakker en sy vrou sê vir hom dat daar ‘n wit vlek op sy wang is. Waarskynlik is die eerste gedagte wat deur so ‘n persoon se gedagtes gaan: Dit is iets onskuldigs – dalk iets wat sommer net afgewas kan word. Miskien my oë wat bietjie getraan het en ‘n kol gemaak het.

Maar gou besef hy dat dit nie net ‘n vuil kol is nie. Wel, dan is dit seker maar een of ander onskuldige merk. Maar ongeag wat dit is, die wet van Moses het voorgeskryf dat hy na die priester moet gaan wat dan moet bepaal of dit iets is wat sal maak dat die man onrein is. Na ‘n deeglike ondersoek volgens die voorskrifte in Levitikus 13 & 14, kan die priester nog nie bepaal of dit werklik ‘n velsiekte is nie. Daarom moet die man homself vir sewe dae afsonder wat hy nie toegelaat word om tussen sy volksgenote te beweeg nie.

Mens kan jou net indink wat in daardie sewe dae deur sy kop gaan. Ontkenning: Dit kan nie besig wees om met my te gebeur nie. Dis net iets onskuldigs. Oor sewe dae sal ek hoor dat die kol verdwyn het. En waarskynlik sal hy in daardie sewe dae byna onophoudelik bid. As ek net hard genoeg bid sal dit weggaan.

Dan gaan hy weer terug na die priester aan die einde van die sewe dae. Die priester ondersoek hom weer. En dan kom die verdoemende uitspraak: Die kol het groter geword. Jy is onrein. Sonder jou af van die res van die mense, want jy mag nie met hulle meng nie. Wat gaan alles deur so ‘n persoon se gedagtes? Verdere ontkenning. Dis nie die waarheid nie. Dis net ‘n aaklige droom. Woede. Here, waarom doen U dit aan my? Depressie. Dis nie die moeite werd om te leef nie. Ek gaan in elk geval sterf – waarom nie sommer nou ‘n einde maak aan alles nie? En uiteindelik die aanvaarding van die onvermydelike: Ek is melaats. Ek gaan ‘n lewe van hel tegemoet totdat ek eendag, genadiglik, deur die dood verlos sal word.

Wanneer dit wel gebeur dat die melaatse na die naaste dorp moet gaan, dalk om kos te gaan kry, rus die onus op hom, wanneer hy ander mense sien naderkom, om uit te roep: Onrein! Onrein! Niemand mag naby hom kom nie.

Melaatsheid is nie ‘n aansteeklike siekte nie, maar omdat die siekte jou onrein maak volgens die wet, het enige persoon wat aan jou raak, ook onmiddellik onrein geword. Selfs om ‘n huis te betree, het tot gevolg gehad dat die huis en alles daarbinne, onrein verklaar is en eers deur middel van sekere seremonies gereinig moes word. Vir die res van jou lewe is jy ‘n uitgeworpene, dra jy ook, in meer moderne taal, ‘n stigma – die stigma van iemand wat deur God gestraf is, want in die Bybelse tyd is melaatsheid baie dikwels gesien as straf op een of ander sonde, soos hoogmoed of laster of dalk selfs een of ander morele sonde. Saam met die fisiese en psigiese lyding van die siekte, het die melaatse dus nog verder die las gedra van mense wat stilweg gewonder het watter sonde hy gedoen het om so ‘n straf te verdien. Nie alleen is hierdie persoon deur die mensdom verwerp nie, maar deur die oordeel van onreinheid, is hy eintlik ook deur God verwerp.

Dit is teen hierdie agtergrond wat ons Jesus se optrede in Lukas 5 moet verstaan. Want Jesus doen skynbaar alles wat verkeerd is. In hierdie konteks is Jesus – Seun van God – op ‘n skokkende manier besig om on-goddelik te handel. Hy kry die melaatse jammer. Die melaatses het tot op daardie punt, min, indien enige barmhartigheid ervaar. Iemand skryf dat die lot van die melaatses nog erger was as dié van die VIGS-lyers van vandag. Vandag is daar allerlei organisasies soos UNICEF en UNAIDS wat vir ons vertel en leer hoe om deernis te hê met hierdie mense. Maar vir die melaatses was daar geen deernis nie – slegs verwerping – verwerping deur hulle eie mense en, so het hulle geglo, verwerping deur God.

Maar Jesus gaan verder. Hy laat nie alleen toe dat die man na Hom toe kom en voor Hom kniel nie, Hy doen boonop die ongehoorde om hom aan te raak. Die impak van die woorde in vers 13 moet ons tog nie miskyk nie. Jesus steek sy hand uit, en raak hom aan. In al drie die eerste evangelies waar hierdie verhaal vertel word, word dieselfde woorde gebruik. Jesus raak aan die melaatse. Dit maak Jesus natuurlik wettiglik onrein.

Wat ‘n skokkende storie en wat ‘n totaal ander prentjie van God as wat die mense tot op daardie stadium van Hom gehad het. Hier vind ons vir God wat op ‘n besondere manier Hom by die noodlydende skaar. Dit is egte medelye, egte meegevoel, egte deernis, empatie, saam-voel, ‘n poging om waarlik om te gee.

Maar is dit nie presies wat Jesus gekom het om op aarde te doen nie. Het Hy dan nie self, met sy intreepreek in Lukas 4 aangekondig nie: Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig. God is barmhartig – diep in sy wese is dit hoe Hy is – Hy kan nie anders wees nie. Die ter-dood-veroordeelde word genees – sy lewe word aan hom teruggegee.

Maar die verhaal eindig nie hier nie. Die man word opdrag gegee om na die priester te gaan sodat dié hom rein kan verklaar. Dus: nie alleen word die man se fisiese lewe aan hom teruggegee nie. Deur hierdie opdrag word die stigma wat aan sy siekte gekleef het ook tot niet gemaak. Hy word weer deel van die ryk van die lewendes. Jesus se keuse om betrokke te raak, het van hierdie stukkende mens weer ‘n heel mens gemaak. Hy word deur sy eie mense aanvaar en hy word ook deur God aanvaar.

‘n Klompie jare gelede sit ek met ‘n jong meisie wat haar hartseerverhaal met my kom deel – ‘n verhaal van seksuele misbruik deur haar stiefpa wat my eie emosies laat wipplank ry tussen trane van hartseer en trane van woede oor dít wat hierdie man aan sy stiefdogter gedoen het. Terwyl ons sit en probeer om haar gevoelens te analiseer kom sy tot die ongelooflike ontdekking – die ergste van haar ervaring is nie die molestering wat plaasgevind het nie. Die heel ergste was dat sy vir haar ma vertel het wat aan die gebeur is, en dat haar ma haar nie wou glo nie. Haar ma het eenvoudig ontken dat dit die waarheid kan wees.

Iemand vra onlangs vir my: Wat is die grootste rede waarom ons nie die stryd teenoor VIGS kan wen nie. Ek wonder of u kan raai wat die antwoord is. Nie in die eerste plek die moraliteits-krisis van ons mensdom nie. Nie in die eerste plek die onvermoë van ons gesondheidsdienste om anti-retrovirale middels te voorsien nie. Die grootste enkele rede: Die ontkenning van die probleem. En hierdie ontkenning vind op baie terreine plaas. Ek wil nogal vermoed dat die grootste persentasie van dié wat hier sit, nog nie werklik die bestaan van hierdie probleem erken nie – of minstens nog nie wil erken dat hierdie probleem mý probleem is nie.

Iemand het eenkeer gesê dat ons nie vandag oor Afrika kan praat sonder om oor VIGS te praat nie. Hierop het ek gereageer deur te sê: Ons kan nie vandag ook die kerk praat, sonder om oor VIGS te praat nie.

Is dit ‘n aangename onderwerp om oor te praat? Natuurlik nie. Is dit lekker om by ‘n bed te staan van iemand wat besig is om te sterf as gevolg van VIGS? Daar is min dinge wat vir my erger is. Sou Jesus weggeskram het daarvan om sy hand uit te steek en hierdie mense aan te raak? Die antwoord is voor-die-hand-liggend. Verwag Jesus van jou en van my om dieselfde te doen? Antwoord maar self die vraag.
Voordat ons nie by die punt gekom het om te erken dat hierdie probleem bestaan en dat dit mý probleem is nie, gaan ons nie sien dat daar ‘n verandering sal plaasvind nie. Hierdie probleem moet my eers aan die hart gryp, ek moet eers, soos Paulus sê, begin ly saam met dié wat ly, voordat ek deel kan word van die oplossing. Dít is wat Jesus so uniek gemaak het in sy bediening.

Daar is meer as een weergawe van die presiese verhaal, maar ek deel graag één van die weergawes met u, van ‘n Belgiese priester met die naam van Vader Joseph Damien De Veuster, wat in 1873 na ‘n eiland in Hawaii gestuur is om onder ‘n kolonie melaatse mense te gaan werk.

Ten spyte van pogings om verhoudings te bou met die pasiënte, het dit egter gou duidelik geword dat hulle nie met hom wou identifiseer nie. Selfs ‘n kerkie wat hy gebou het, kon hulle nie oortuig van sy goeie bedoelings nie. Vir twaalf jaar het hy uitgehou voordat hy besluit het om boedel oor te gee en terug te keer na sy vaderland. Hy was die enigste gesonde persoon tussen die melaatses en dit was duidelik dat hulle hom nie waarlik vertrou het nie.

Kort voordat hy sou vertrek, het hy een oggend ontbyt gemaak. Terwyl hy besig was om kookwater uit ‘n kastrol te gooi, het daar van die kookwater gemors en op sy voete gespat. Groot was sy verbasing toe hy egter geen pyn voel nie. Hy kyk in verwondering af na sy voete voordat die aaklige realiteit hom tref – een van die simptome van melaatsheid is ‘n gebrek aan gevoel. Hy was ook melaats!

Daar word vertel dat die storie soos ‘n veldbrand versprei het en later daardie dag het hy die kerkklok gelui om die mense op te roep na die erediens. Vir die eerste keer ooit was die kerk so volgepak dat die mense moes staan om in te pas in die kerkgebou. En in plaas daarvan dat hy die gemeente gegroet het met die normale aanspreekvorm van “broers en susters”, het hy hulle aangespreek as: “mede-melaatses”. Dit was die begin van sy bediening onder hierdie gemeenskap.

‘n Vriend van my behoort aan ‘n gemeente in Grand Rapids in die staat Michigan in die VSA. Hierdie gemeente se slagspreuk laat menige mens regop sit van verbasing as hulle dit die eerste keer hoor. Hulle slagspreuk is: Ons het VIGS! Vir die VIGS-lyers met wie hulle te doen kry, wil hulle kom sê: Ons is mede VIGS-lyers.

Het jy VIGS? Nee, ek bedoel nie of jy al positief met die MI virus gediagnoseer is nie. Ek vra net of die nood van die 40 miljoen mense wat tans MIV-positief is, of die dood van die meer as 6000 mense vandag, iewers in suidelike Afrika, of die meer as 4 miljoen weeskinders in suidelike Afrika, nie vir jou ook raak nie?

En as dit vir jou so oorweldigend klink dat jy voel jy wil eerder weghardloop, wil jy nie dan vir die Here vra of Hy nie vir jou op ‘n klein skaal kan gebruik om ‘n verskil te maak nie. Jy hoef nie die wêreld se VIGS-probleem op te los nie.

Die melaatse het vir Jesus gesê: Here, as U wil, kan U my gesond maak. Jesus het geantwoord: Ek wil! Niemand gaan van my en van jou verwag om ‘n persoon met VIGS gesond te maak nie. Die siekte is, op die oomblik in elk geval, ongeneeslik. Daarom sal so ‘n persoon se vraag dalk anders klink: Meneer of Mevrou, as jy wil, kan jy net jou hand op my sit en vir my bid. As jy wil, kan jy net vir my wys dat jy vir my omgee. As jy wil, kan jy net vir my laat voel dat ek nog ‘n mens is, al bestaan ek letterlik net uit vel en been. As jy wil, kan jy my net vashou, want ek het nie meer ‘n pa of ma wat my kan vashou nie.
As jy wil…

Die Here het my persoonlik oortuig dat ek nie anders kan nie. As ek waarlik vir God op aarde wil verteenwoordig, kan ek nie langer ontken wat besig is om rondom ons te gebeur nie. Ek wil ‘n verskil maak.
As jy wil…

Die vraag is: Wil jy?
Amen.

Author: A van Wyngaard (Dr)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *