Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:06
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 11
Verse: 37-52
Teks Lukas 11: 37-52

Met die lees of aanhoor van Luk 11:37-52 kan ‘n mens jou maklik van die Fariseërs distansieer met: “Ek is nie begaan oor die rituele skoonmaak van my eergerei nie. Ek is nie fanaties oor die gee van my tiendes nie. Ek soek juis nie die voorste plek in die kerk uit nie.” Ongelukkig kan al hierdie verontskudigings (en nog meer) ons nie vrywaar van die gevaar dat ons juis besig kan wees om te doen wat Jesus hier by die fariseers veroordeel nie….

Lukas vertel dat ‘n insident daartoe aanleiding gegee het dat Jesus die Fariseërs so ernstig aangespreek het. Hoewel die Fariseër Jesus uitnooi om by hom te kom eet (vers 37), aanvaar hy Jesus nie sonder meer nie. Jesus word fyn dopgehou en toe dit blyk dat Hy nie die tradisie (om jou hande voor ete te reinig) nakom nie, word Hy só aangekyk (vers 38) dat Jesus daarop reageer (vers 39). Lukas vertel nie dat die Fariseër iets gesê het nie – die manier wat hy gekyk het, was genoeg dat Jesus presies geweet het waaroor dit eintlik gaan. Jesus het homself in die posisie van soveel randfigure bevind: Hy het nie aan al die vereistes van die tradisie (of van die gemeenskapsleiers) voldoen nie en daarom is Hy veroordeel (en daarmee saam verwerp).

Die Fariseërs het in hulle strewe na wetsgehoorsaamheid hulle naaste en daarmee saam vir God self vergeet. Die gevolg was dat hulle wel na die uiterlike “rein” was, maar innelik nog inhalig en gemeen (vers 39). Hulle kon hulle offers tot in die fynste besonderhede bereken, maar vergeet dat die hoofsaak geregtigheid en liefde vir God is (vers 42).

Die vraag is dus nie of ons begaan is oor rituele reinigings en of ons fanaties ons tiendes bereken nie. Die vraag is: Hoe kyk ons na ons naaste?

Natuurlik moet ons erns maak met God se woord – met sy riglyne vir ons lewens. (Volgens vers 42b moet die gee van offers nie nagelaat word nie.) Maar wanneer ons pogings om die Woord te gehoorsaam tussen ons en ons medemens kom, het dit daarmee ook tussen ons en God gekom.

Dit is hartseer dat Christene se traagheid om by die nood van mense betrokke te raak, dikwels die gevolg is van hulle veroordeling van mense se sondige optredes. Dit gebeur wanneer ons in die manier wat ons na ons medemens kyk, eerstens wil agterkom of hulle nie dalk sondig is (of gesondig het nie).

Dit word vertel dat Christene wat ‘n honderd jaar gelede ernstig na oplossings vir armoede gesoek het, ‘n onderskeid gemaak het tussen “armes wat dit verdien” en “onskuldige armes”. ‘n Honderd jaar later is baie Christene se reaksie op die MIV en vigspandemie nog steeds: “Onskuldig of skuldig?”

Dis beslis nie maklik om ons van die Fariseërs van ons teksgedeelte te distansieer nie.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *