Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:24
Bible Book:
Luke / Lukas
Chapter: 6
Verse: 17-26
Teks: Lukas 6:17-26

In die kerk waarin ek opgegroei het, is ‘n vaste liturgiese orde in eredienste gevolg. Vandag word elemente daarvan steeds deur sommige leraars gebruik: Elke erediens begin met ‘n kort gebed waarin die gemeente se afhanklikheid van God verklaar word. Hierna groet die prediker die gemeente namens God met ‘n seëngroet. Die woorde van 1 Timoteus 1:2 kan byvoorbeeld gebruik word: “Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!”

Wanneer ek deesdae saam met ‘n gemeente aanbid en die erediens begin sonder ‘n seëngroet, voel ek of ek iets mis. Ek kritiseer nie maniere wat gemeentes aanbid nie. Ek wil net hiermee sê dat dit wonderlik is om God se eerste handeling met mense as onverdiende seën te ondervind.

Die prent wat Lukas in verse 17-23 teken, herinner my hieraan. Dit herinner my ook aan die uitnodiging van Jesus in Mat 11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Lukas vertel dat mense met baie soorte siektes en probleme gekom het na hierdie Man wat genesingskrag en woorde van troos en bemoediging gehad het.

Ons Skriflesing vorm die inleiding tot Lukas 5:20-49 wat ‘n preek vorm. (Daar is baie ooreenkomste met die “Bergrede” van Matteus 5 -7.) Lukas vertel dat Jesus éérs die mense gesond gemaak het en geseën het en hulle daarna geleer het.

Dit is maklik om in die gewoonte te verval dat ek eers wil agterkom of iemand dit wat ek aan hom of haar sou kon gee, “verdien”, voor ek my hart oopmaak. Hierdie “gewoonte” kom in die konteks van die vigspandemie na vore wanneer mense eers wil weet of iemand wat met MIV leef, “onskuldig” geïnfekteer is, voor hulle kan besluit hoe om op te tree.

Jesus het die mense wat na Hom gekom het, gesond gemaak en bemoedig. Hy het mense in hulle nood gehelp. Hy het hulle in liefde ontvang. Selfs toe Hy hulle begin leer het, het Hy hulle eers geseën.

Lukas vertel in verse 22-24 dat Jesus diegene wat gedink het hulle het niks van Hom nodig nie, vermaan het. Daar is situasies waar vermaning en waarskuwings nodig is. Ook dan moet ons steeds met die liefde van Christus optree wanneer ons “die waarheid in liefde” praat (vgl Efes 4:15).
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe ervaar mense my (ons as Christene) in die wyse wat ek (ons) teenoor hulle optree – goedgesind of veroordelend?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *