Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 29/10/2010 – 12:45
Year C (2009-2010)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 19
Verse: 1 – 10

Wanneer ek die verhaal van Saggeus lees, kom ‘n prent in my gedagtes van hoe die mense van Jerigo vir Saggeus allerlei name gee: Daar gaan die kort mannetjie (vgl v 3). Hy’s so ryk, hy stink. Wel, dis omdat hy die belastinggaarder is (vgl v 2). Jy weet, hy is een van Rome se agente wat van sy eie mense steel (vgl v 8). Hy is ’n verraaier. Hy kan nie ’n ware kind van Abraham wees nie (vgl v 9). Nou daar is iemand wat ’n verlore sondaar is (vgl v 7, 8a en 10).

Hoe sou mense wat so oor iemand dink en praat teenoor hom optree? Volgens vers 3 kon hy nie tussen die skare deurbeweeg om Jesus te sien nie. Miskien wou hulle hom nie tussen hulle laat staan nie? Volgens vers 7 het die gemeenskap verhinder dat hy besoekers kry.

Hy moes ’n eensame man gewees het.

Toe kom Jesus na die dorpie. En Hy sien Saggeus en praat met hom – en gebruik sy regte naam (v 5). In teenstelling met die dorpie se gebruik gaan Jesus by hom aan huis en bly daar as gas (v 5-7).

Jesus se besoek aan Saggeus het ’n wonderwerk tot gevolg. Saggeus word ’n nuwe mens. Hy staan op, bely sy sonde en belowe hy sal vergoed (v 8). Daarom verklaar Jesus dat verlossing na hierdie huis gekom het en dat hy ’n ware seun van Abraham is (v 9).

Wanneer ek die verhaal van Saggeus lees, wonder ek – wat het gebeur na Jesus die dorpie verlaat het? Het die mense van Jerigo Saggeus aanvaar? Het hulle sy belydenis geglo? Het hulle hom as ’n broer-in-Abraham omhels?

Ons weet nie. Miskien het Lukas doelbewus nie die res vertel nie. Want die vraag is nie wat die mense van Jerigo na Jesus se besoek gedoen het nie. Die vraag is wat sou ons gedoen het as ons in hulle plek was?

Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe reageer ons wel?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *