Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:10
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 12
Verse: 4 – 12
Teks: Lukas 12: 4-12

In Lukas 12:4-12 hoor ons Jesus se intieme woorde aan sy vriende (vers 4). Lukas beskryf hierdie gesprek na hy vertel het dat die skrifgeleerdes en Fariseërs hulle teenstand teen Jesus duidelik begin toon het (11:53), die skare mense om Hom saamgedrom en mekaar begin vertrap het (12:1). Dis duidelik dat Jesus op weg is na die kruis en op hierdie weg praat Hy met sy volgelinge daaroor dat navolging van Hom ook vir hulle lyding en vervolging sal meebring.

Daar is ‘n spanningsvolle kontras in Lukas 12:4-12: Aan die een kant hoor ons Jesus se oproep om in ‘n vyandige wêreld getrou sy Naam te bely (vers 8) en sy waarskuwings om alleen God te vrees (vers 5) en nie teen die Heilige Gees te sondig nie (vers 10). Aan die ander kant vind ons hier van die mooiste trooswoorde van Jesus. God vergeet nie eens mossies nie (vers 6) en Hy ken selfs die hare op ons kop (vers 7). Selfs wanneer ons uit vrees kan kop verloor, sal die Heilige Gees ons help en leer (vers 12).

Hoewel hierdie gesprek duidelik in die eerste plek fokus op gelowiges se vrymoedige belydenis van Jesus as Here en die waarskynlike teenstand wat daaruit mag volg, het dit sekerlik ook betekenis vir Christene (alle mense) se lyding onder baie ander omstandighede. (Die troos dat God selfs ons hare tel, geld tog nie net in ‘n situasie van openbare belydenis nie.)

Wanneer ‘n mens na die wyer betekenis van Jesus se bemoediging en troos begin vra, val dit op dat Jesus sy dissipels verseker dat daar vir hulle ten spyte van vervolging (juis te midde daarvan!) die seker wete is dat God hulle intiem ken (“selfs julle hare”) en dat Hy so naby is dat Hy hulle gedagtes kan rig (vers 12).

Almal van ons het hierdie behoefte: om geborge (tuis/beskut/veilig) te wees. Daarom kan ‘n kind ten spyte van sy koors in sy moeder se arms aan die slaap raak. Daarom kan ‘n bejaarde kalm raak voor ‘n ernstige operasie wanneer ‘n geliefde haar hand vashou. Almal van ons het hierdie vrees: nie dat ons sal seerkry en lyding ervaar nie, maar dat ons juis dan alleen, enkel, eensaam sal wees – die ervaring waarvan té veel MIV+ persone getuig.

Om Jesus “voor owerhede en gesagsvoerders” te bely kan tog nie net tot ‘n formele belydenis van geloof in Hom voor hooggeplaasdes beperk word nie. Beteken die navolging van die Gekruisigde nie ook dat ons saam met Hom die alleenlopers, die eensames, hulle wat deur die gemeenskap verstoot word, gaan opsoek nie? Die kerk van Christus het die roeping om Christus se voorbeeld van sorg en medelye na te volg. En behoort ‘n belydende, kruisgemeente nie juis ‘n ruimte te wees waar eensames kan tuiskom nie? Te meer in ons tyd van groot swaarkry en lyding word ons uitgedaag om hierdie kenmerk van Jesus in die wêreld te beliggaam.

As ons hieroor eerlik met onsself word – is dit nie dikwels ons vrese wat ons weerhou om dit te doen nie?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *