Submitted by Jan on Tue, 16/07/2013 – 10:51
Year C (2012-2013)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 10
Verse: 38 – 42

Is ek die regte soort Christen? Wil jy ook graag ‘n “diep” Christen wees – iemand met geestelike insig, wat “naby aan die Here” leef? Of miskien wil jy ‘n Christen wees wat vol ywer vir die Here werk – wat vol energie as’t ware berge versit in Sy diens! Wat is die ideaal? Die paar kort versies in Lukas 10 gee vir ons perspektief op die saak. Jesus kom in Betanië aan en word deur Marta in haar huis verwelkom. Marta is die ideale gasvrou. Sy sorg dat die moeë reisigers, (Jesus en sy dissipels) iets te ete kry.

Aan die ander kant is Maria, haar suster, minder geïnteresseerd in die voorbereidings in die kombuis. Sy sit liewer saam met Jesus se dissipels waar hy praat oor die nuwe wêreld wat God besig is om te skep.

Natuurlik is Marta nie tevrede nie! Maria moet mos hand bysit – en nou sit sy net en luister. Martha kla by Jesus. En Jesus gee haar die klassieke antwoord in vers 41. “Marta, Marta…” ‘n Mens kan amper Jesus se liefdevolle stem hoor.

Oppervlakkig klink dit of Jesus Maria se sit en luister teenoor die bedrywigheid van Marta stel. Trouens, hy sê dit in soveel woorde: Maria het dit wat beter is gekies. Sy het gekies om iets te ontvang wat nie van haar weggeneem kan word nie. Marta het gekies om te gee. Is dit dan verkeerd? Hoe kan dit wees? Jesus het dan self gesê: Dit is beter om te gee as om te ontvang? En net in die vorige verse sê Jesus vir die wetgeleerde: Gaan en DOEN jy net so.!

Ons maak ‘n fout as ons in dié paar verse ‘n klinkklare “korrekte Christelike lewe” wil aflei. Ons lewe as Christene bestaan nie uit ‘n stel onbuigsame reëls nie, maar uit besluite vir die regte optrede vir elke situasie. Jesus se woorde aan Marta, dat dit wat Maria gekies het nie van haar weggeneem sal word nie, moet ons verstaan in die lig van Jesus se werk op aarde. Hy weet dat Hy aan die kruis gaan sterf. Hy het min tyd, en hy het die begeerte dat sy volgelinge iets sal verstaan van die doel van sy koms na die wêreld. Wanneer hulle dan die teleurstelling van sy kruisdood beleef, sal hulle versterk word deur hierdie insig. En hierdie insig sal nie van hulle weggeneem word nie. Daarvoor was dit nodig dat hulle stil by Jesus moes wees. Hulle gedagtes moes gevorm word. Hulle eie veronderstellings moes skuif.

Ons lewe in ‘n “doen-wêreld” – elke oomblik nog ‘n aktiwiteit wat roep. Maar ons het nodig om by die Here te hoor waaroor dit eintlik gaan. Ja, doen is belangrik! Ons het nodig om in fisiese behoeftes te voorsien, mense te besoek, hulp-programme te organiseer. Maar dis veral nodig om mense geestelik en emosioneel toe te rus om die lewe te hanteer. Dít kan nie van hulle weggeneem word nie!

Iemand wat só toegerus is vind rus in God se plan met hom/haarself en die wêreld. Dan kom die vrede wat alle verstand te bowe gaan, ten spyte van die gebrokenheid van ons lewe en elke dag se ervaringe.

Dit is dus nie ‘n kwessie van kies om óf rustig te luister na die Here óf baie dinge te doen nie, maar om die plek van beide luister en doen te begryp.

Vraag: Wanneer laas het jy na iemand geluister wat worstel met lewensvrae, en saam met die persoon ook na Jesus geluister? Iemand wat met MIV lewe en worstel met newe-effekte van medikasie, of iemand wie se kind of vrou verkrag is, of iemand wat so bitter graag verwerping van die samelewing wil afskud?

Geskryf deur: Ds. Samuel Murray & Me Logy Murray (CABSA Stigterslid en Raadslid; Carpe Diem Konsultante)

Author: Murray L (Ms)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *