Submitted by Jan on Tue, 09/07/2013 – 11:18
Year C (2012-2013)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 10
Verse: 25 – 37

Daar is ‘n sekere sonde in die Bybel waarvan ons min lees en waaraan ons ons ook min steur, en dit is die sonde van onbetrokkenheid. Dit is waaroor hierdie gedeelte gaan.

‘n Sekere man is op reis vanaf Jerusalem na Jerigo. Hierdie pad loop deur ‘n uiters onherbergsame gebied – ‘n pad wat hom ideaal daartoe verleen dat struikrowers kan wegkruip om hulle slagoffers onverwags voor te lê en te beroof. En dit is ook wat met hierdie niksvermoedende man gebeur – hy word aangeval, kaal uitgetrek en halfdood laat lê.

Maar, sou ons kon vra, hoekom het hierdie man in elk geval alleen op hierdie pad geloop as dit dan so ‘n ideale plek was vir rowers om mense voor te lê? Is dit dan nie uiteindelik sy eie skuld dat hy aangeval is nie. Sou mens nie selfs, dalk in ons binneste, kon sê dat dit eintlik sy verdiende loon is dat hy aangeval is nie? Sou mens nie, soos wat ek al baie hoor sê het, dat diegene wat VIGS het, mos nou hulle verdiende loon kry nie. Dis mos hulle eie skuld.

Ja, mens sou sekerlik so kon redeneer. Maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Die feit is, hierdie man is in die moeilikheid en het op hierdie stadium hulp nodig. Nooit word daar gevra waarom hy in die moeilikheid is nie.

Twee persone kom verby. Albei van hulle het waarskynlik ’n goeie rede waarom hulle hom nie kan help nie. Dalk was die priester laat vir sy tempeldiens wat hy in Jerusalem moes gaan verrig. Hoe sou dit in elk geval lyk as hy met bebloede klere by die tempel opdaag?

Die Leviet kon moontlik bang gewees het dat die rowers hom ook sou aanval. Die feit is, hierdie twee mense bly onbetrokke by die nood van die man wat aangeval is, en in God se oë is dit verkeerd.

Albei hierdie mense is lief vir die Here. Albei werk vir die Here. Hulle is albei tipe van predikante, en tog, as hulle met ‘n situasie gekonfronteer word waar hulle ‘n besluit moet neem om betrokke te raak by hulle medemens se nood, dan is hulle nie in staat om die regte keuse uit te oefen nie. Dan gaan hulle maar eerder verlangs verby. Die Here beskou ons onbetrokkenheid by ander mense se nood as sonde. Die priester en die Leviet staan skuldig voor die Here omdat hulle nie betrokke wou raak by die ander persoon se nood nie.

Nadat Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel het, eindig die verhaal met ‘n verbysterende ommeswaai van die Skrifgeleerde se vraag, Nou nie meer “Wie is my naaste?” nie, maar “Wie van hierdie drie, Priester, Leviet of Samaritaan, het hom soos ‘n naaste gedra? Wie was van sy kant die naaste van hom wat onder die rowers verval het – verdiend of onverdiend?”

En daarop kan die Skrifgeleerde geen ander antwoord gee nie, as om te sê: “Hy wat barmhartigheid bewys het aan hom wat onder die hande van die rowers verval het.”

Dit beteken dat die beslissende vraag wat ons moet stel, ook nie meer is, “Wie is my naaste?” nie, maar wel: “Van wie is ék die naaste? Waar word op my ‘n beroep gedoen? Waar vestig iemand hulle hoop op my: hoop dat ek vir hom of haar tyd het, dat hulle vir my belangrik is, die hoop dat ek agter hulle sonde, agter hulle ydelheid en hulle geestelike leegheid, agter hulle aggressiwiteit en oneerlikheid, tog nog bereid sal wees om hulle in hulle nood raak te sien?”

Wat is die eerste vraag wat deur jou gedagtes gaan as jy met ’n persoon in nood te doen kry? Is jy bereid om te help, selfs al is die persoon se probleem sy eie skuld?

Dr A van Wyngaard:
Shiselweni Home-Based Care (SHBC)

Author: van Wyngaard A (Dr)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *