Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:23
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 17
Verse: 1 – 4
Teks: Lukas 17:1-4

“Moet ek dan my broer oppas?” Hierdie verontskuldiging van Kain in Genesis 4:9 lê vlak in ons almal se harte. Al noem ons onsself Christene en kerkmense en het ons iets van God se genade ontdek, bly die verantwoordelikheid vir ons medemens iets wat ons op allerlei maniere probeer ontduik. Van nature sluit ons ons harte vir die aansprake van ons medemens. Dat God se genade ons tot genadige en verantwoordelike optrede inspireer, is vir min ‘n daaglikse werklikheid. Te meer wanneer ons medemens na ons oordeel verkeerd opgetree het.

In Lukas 17:1-4 leer Jesus sy dissipels helder en duidelik oor hulle optrede teenoor mekaar en hulle verhoudinge met hulle medemens. Dis byna soos ‘n skut moet leer raakskiet deur die visier, korrel en skyf in lyn te bring. So moet ons as Jesus se volgelinge leer om genade, verantwoordelikheid en ons naaste in lyn te bring.

Christene het die wonderlike voorreg om uit God se genade te leef – genade wat ons tot verantwoordelikheid teenoor ons naaste bevry!

Die volgende verhaaltjie mag help om die implikasies hiervan in die konteks van MIV en vigs te besef:

By ‘n werkswinkel oor MIV en vigs het ‘n sessie oor stigma gehandel. Nadat verduidelik is wat stigma beteken en hoe stigma die seerkry en swaarkry van MIV+ persone vererger, is daar aan die deelnemers geleentheid gegee om elkeen afsonderlik na te dink oor die vrae: “op watter manier was ek al aan stigmatisering blootgestel? Watter rol het dit moontlik in my lewe of my gesin se lewe gespeel?”

Na ‘n paar minute het een deelnemer (kom ons noem hom Jan) merkbaar hartseer geword. In ‘n persoonlike gesprek het Jan die rede vir sy ontsteltenis verduidelik. Sy suster het ‘n tyd gelede ontdek dat sy MIV+ is. Dit was vir haar en vir hulle almal ‘n groot skok. Geweldig was hulle familie se skok toe hulle ‘n paar maande later die tyding gekry het dat sy selfmoord gepleeg het!

Wat Jan tydens die werksessie oor stigma en die geleentheid tot nadenke daarna ontdek het, was wat met sy suster gebeur het. Sy het intens beleef dat sy gestigmatiseer word. Sy het in haar reaksie op die wete dat sy MIV+ is, ook haarself gestigmatiseer. Al het hulle as gesin miskien nie doelbewus hiertoe bygedra nie, was hulle nie eers daarvan bewus nie. Jan se suster het haar eie lewe geneem, nie alleen omdat sy MIV+ was nie, maar veral omdat die implikasies daarvan vir haar verhoudinge, haar selfbeeld en haar toekomsverwagting onhoudbaar geword het.

As Jesus ons oproep om uiters versigtig te wees om iemand te laat struikel, het dit tog sekerlik implikasies vir ons optrede teenoor geïnfekteerde persone en ons manier van praat oor MIV en vigs.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *