Year A (2010-2011)
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 21
Verse: 1
Verse (to): 19
Teks: Johannes 21:1-19

Een van die mooi verskynsels in ons samelewing is dat daar baie organisasies en daarmee saam baie mense is wat by die nood van mense betrokke is: Die nood van blindes, gestremdes, verskillende siektes en ook die nood wat MIV en vigs tot gevolg het.

Wat opval wanneer mens luister na die stories van mense wat (met oorgawe) betrokke geraak het, val dit op dat hierdie mense heel dikwels begin betrokke raak het nadat hulle op ‘n persoonlike vlak met die nood gekonfronteer is. Byvoorbeeld: ‘n Familielid of ‘n goeie vriend het blind geword en nou het die persoon ‘n passie vir die nood van blindes in ons samelewing. Om deur so ‘n “konfrontasie heen” van ander se nood bewus te raak en ook betrokke te raak, is natuurlik nie verkeerd nie. Dit raak wel ‘n probleem wanneer mense éérs betrokke raak nádat hulle so persoonlik gekonfronteer is. Iets hiervan kom na vore wanneer gemeenteleiers sê dat daar in hulle gemeentes nog nie ‘n sensitiwiteit of betrokkenheid by die vigspandemie is nie, “want ons gemeente beleef dit nog nie as ‘n probleem wat ons raak nie.”

Wanneer Jesus volgens Johannes 21:15 – 17 vir Petrus (wat Hom drie maal verloën het) as dissipel herstel, gaan dit volgens hierdie gesprek vir Jesus om een motief wat in Petrus se lewe die deurslag moet gee: Petrus se liefde vir Jesus Christus. Dat Petrus ten spyte van sy persoonlike mislukking wel vir Jesus opreg liefhet, is vir Jesus “genoeg” – Petrus ontvang opnuut die opdrag tot dissipelskap en daarmee saam die roeping om “Jesus se lammers en skape” te versorg. Hierdie versorging beteken tog veel meer as dat Petrus net sou preek. Wat ons in Handelinge lees, bevestig dat Petrus ook by die nood van mense betrokke geraak het.

Dissipels van Jesus wat Hom in die wêreld van ons dag dien, behoort dus in die eerste plek gemotiveerd te wees deur hulle liefde vir Jesus Christus wat vir ons gesterf het en ook opgestaan het. Iets hiervan vind neerslag in die bandjies wat jongmense soms dra: “WWJD” (=what would Jesus do?). So lank dit natuurlik nie net bly by die dra van ‘n bandjie nie. In 2 Kor 5:14,15 verwoord Paulus dit so: “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”

Juis omdat ons weet dat Jesus opgestaan het en lewe dring ons liefde vir Hom ons om by al die gestaltes van die dood rondom ons betrokke te raak en sy liefde daar te demonstreer. Daarom hoef (behoort) ons nie te wag tot ons in ons “eie kring” gekonfronteer word voor ons “wakker skrik” en betrokke raak nie. Gedring deur die liefde van Christus (alleen) kan Jesus se dissipels nie anders as om by die nood van mense in al sy gestaltes betrokke te raak nie – en daarom by name ook by die vigspandemie.

 

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *