Bible Book: Revelation / Openbaring
Chapter: 5
Verse: 1
Verse (to): 14

 

Teks: Openbaring 5:1-14

In die eerste verse van Openbaring 5 lees ons van Johannes se ontsteltenis dat daar niemand gevind kon word wat waardig is om die boekrol “in die regterhand van Hom wat op die troon sit” oop te maak nie (vergelyk vers 1 en 4). Gelukkig wys een van die ouderlinge vir Johannes daarop dat daar wel Een is wat dit kan doen.
In verse 5 en 6 word die Een wat die boekrol kan oopmaak, bekend gestel. In vers 5 word Hy die leeu uit die stam van Juda wat oorwin het, genoem. Vers 6 beskryf Hom as die Lam met sewe horings en sewe oë. Met woorde en beelde wat aan die Ou Testament herinner, word Christus hier aan ons bekendgestel as die oorwinnaar aan wie al die lof toekom (vergelyk verse 12 en 13).
Dis belangrik dat ons sal oplet dat Johannes in vers 6 sê hierdie Lam is “die Een wat geslag was”. Die woord “geslag” kom weer in vers 9 terug wanneer die 4 lewende wesens en 24 ouderlinge sing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop”. Hierdie beskrywing herinner aan die verhaal van Tomas se ontmoeting met die opgestane Christus. In Joh 20:19-31 lees ons dat die opgestane Jesus die tekens van sy kruisiging aan Tomas getoon het en hom genooi het om te kyk en te vat.
Hierdie gedagtes laat my oor die volgende nadink: As ons Christus aanbid wat die tekens van sy kruisdood dra – wat is ons reaksie wanneer ons ons medemens en ons mede-gelowige se wonde raaksien?
Anders gestel: Ons dien saam die gekruisigde Christus – is ons geloofsgemeenskap ‘n veilige ruimte waar ons ons tekorte, ons foute, sonde en wonde met mekaar kan deel?
Nog nader aan onsself gestel: Het ek vrymoedigheid om my wonde vir my medegelowiges te wys?
Christus se wonde, sy kruisdood was die gevolg van ander se sonde. Hy sterf as die sondelose as gevolg van ons sonde. Ons wonde en ons medemense en medegelowiges se wonde is anders. Soms is dit as gevolg van ons eie sonde, soms as gevolg van ander se sonde en soms as gevolg van die gebrokenheid van ons wêreld.
Jy ken waarskynlik verhale van gemeentes wat gewondes met wonderlike liefde omarm en opvang. Hieroor is ‘n mens baie dankbaar. Ongelukkig vertel die verhale van die vigspandemie dat wanneer die indruk bestaan dat mense se wonde die gevolg van sonde is – veral hulle eie sonde – die spontane ondersteuning verander in afsydigheid en selfs veroordeling.
Daar is genesing vir ons wonde by Christus wat gekruisig is en opgestaan het. In ooreenstemming hiermee behoort daar ook genesing te wees vir gewonde mense – wat ook al die redes – in Christen gemeenskappe. Omdat Christus, die gekruisigde, ons Here is, behoort ons te weet om met sagte hande om te gaan met ons gewonde medemense en mede-gelowiges.
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat kan ek doen om die geloofsgemeenskap waaraan ek behoort ‘n veiliger ruimte vir gewondes te maak?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *