Bible Book: Zechariah / Saggaria
Chapter: 3
Verse: 1
Verse (to): 10

 

Teks: Sagaria 3:1-10

Die naggesig wat Sagaria in hoofstuk 3:1-5 beskryf, het waarskynlik groot bemoediging en troos vir die moedelose inwoners van Jerusalem sonder mure en sonder ‘n tempel gebring. Dit verseker dat God se ontferming en genade groter is as die sondes en gebreke van sy volk wat Hom probeer dien. Jesua, die hoëpriester, is onwaardig om die volk voor God te verteenwoordig. In plaas daarvan om gereinigde priesterklere te dra, soos Moses dit op God se bevel voorgeskryf het, staan hy daar met vuil klere!
Maar al sou die aanklaer ook die wet aan sy kant hê om Jesua aan te kla, gryp God genadig in: Jesua word vergewe en kry nuwe klere (verse 4-5)! Wat in hierdie gesig gebeur, word treffend in vers 2 opgesom: die stuk hout is uit die vuur geruk!
Wanneer ek as Nuwe Testamentiese gelowige hierdie gedeelte in die ou Testament lees, word dit vir my ‘n wonderlike beeld, gesig, gelykenis van God se genadige verlossing. Só is ek, ons, uit genade gered!
Op grond van God se Wet sou ten regte ‘n klagskrif teen ons opgestel kan word wat net een uitspraak regverdig: skuldig! Met ons eie dade staan ons voor God soos met walglike vuil klere. Maar dank God: in Christus, ons volmaakte hoëpriester, is ons vrygespreek. Ons het nuwe klere ontvang. Ons is inderdaad brandhout wat uit die vuur geruk is. In God se hande word hierdie vuurmaakhout tot werktuie in sy koninkryk (vgl Efes 2:8-10).
In hierdie “gelykenis van God se genadige verlossing” is daar een aspek wat my verder laat nadink het. Die openingstoneel van hierdie gesig vertel van ‘n aanklaer wat Jesua aankla (vers 1). Reeds in die vroeë Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) is “aanklaer” met “duiwel” vertaal en meeste Bybelvertalings vertaal dit met “Satan”. Daar is dus ‘n wye konsensus dat die een wat ons voor God aankla, die Duiwel is (vlg ook Openb 12:10).
Dis duidelik dat God ontevrede is met die optrede van hierdie aanklaer. Daarom word hy heftig deur die Here self bestraf en stilgemaak (vers 2).
Waarom is soveel Christene se eerste reaksie wanneer hulle hoor dat iemand met MIV leef, die vraag “hoe het dit gebeur”? Waarom wil ons eers weet of iemand “skuldig” of “onskuldig” geïnfekteer is? Is dit dalk omdat ons wil weet of ons die persoon moet aankla as daar sprake van sonde is? Jesus het tog self vir jy dissipels uitgespel dat hulle nie moet oordeel nie (vgl Mat 7:1-5).
As ons werklik begryp hoe groot God se genade oor ons is – dat ons deur God uit die vuur geruk is – sal ons ander kan aanvaar soos God ons aanvaar het (Rom 15:7).
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *