Bible Book: Psalms
Chapter: 119
Verse: 33
Verse (to): 40

 

Psalm 119 v33-40

Psalm 119:33-40 is ‘n gebed wat God vra om die lewe in volheid, soos wat God dit bedoel het, te skenk. Vergelyk vers 40b: “Hou my in die lewe, want U is getrou”. Die Psalmdigter is intens bewus van die noodsaaklikheid om in hierdie lewe bewaar te word. ‘n Diepe gewaarwording van afhanklikheid resoneer in hierdie verse.

Hierdie gebed van afhanklikheid volg vanuit ‘n insig en verstaan van jou eie hart. Iemand stel dit so: “There is a tension in the heart itself: heart-loyalty threatened by heart-disloyalty”. Ons hart wil gehoorsaam (vers 37), maar kan maklik tot selfsugtige begeertes (verse 36) of na dit wat die oë sien, verlei word. Daarom is daar die vrees vir teleurstelling (vers 39).

Die luukses van die moderne lewe skep dikwels valse indrukke van veiligheid. Uiteindelik is ons almal kwesbaar. Die MIV pandemie het ons van ons gemeenskaplike kwesbaarheid geleer – of ons mans of vroue, ryk of arm, Christen of ongelowige is. Maar dit gaan nie net oor ‘n lewensbedreigende virus nie. Ons staan nader aan die afgrond van die moontlikheid om die lewe soos God dit bedoel het, te verloor, as wat ons wil erken.

Daar is die moontlikheid om die “ware lewe” te verloor. Hoe kan ons hiervan bewaar word?

Deur die genade van God! Die Psalmdigter roep na God en is afhanlik van God. Want God is die gewer van lewe.
Om oor na te dink (of te bespreek): Sal ‘n eerlike erkenning van die verleibaarheid van jou eie hart ‘n verskil maak in die wyse waarop jy op iemand anders se probleme reageer? Vergelyk Galasiërs 6:1-2.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *