Year C (2009-2010)
Bible Book: Psalms
Chapter: 63
Verse: 1
Verse (to): 8

 

Psalm 63 is een van die sogenaamde “woestyn”-psalms. Andrew Louth skryf in The Wilderness of God: “(The desert) is a place of beginning, a place where the human is refined and God revealed.” Deur die momentum van slegs agt verse sien ons hoe hierdie woestynervaring van Dawid ’n gestroopte mens maak, maar ’n mens wat God intiemer leer ken. Is dit nie die potensiaal wat ’n woestynervaring vir enige mens inhou nie? Dit verg nie ’n ryke verbeelding om jou te kan indink deur watter woestynervaring iemand moet gaan wat met slegte nuus gekonfronteer word nie: of dit die nuus van ’n terminale siekte is; ’n veranderde MIV-status; ’n onverwagte dood. Wat die inhoud ook al van die woestynbelewenis mag wees, vir baie mense loop dit uit op ’n worsteling. Daarom is die taal van soeke, van dors, smagting bekend in ’n tyd waar die lewe soos “’n land sonder water” voel (v 2). Dis ’n lewe waar alle léwe onmoontlik voel.

Een van die uitkomste van ’n dor periode in ’n mens se lewe, is dat jy berusting soek. Getroos wil word. Veiligheid wil ervaar. In iets Groter as jyself geanker wil wees, juis omdat jou lewe se fondasie onder jou gekraak voel. Dawid kry dit. Nie net in sy binnekamer as hy soggens wakkerword en oor God nadink nie. Nie net saans as hy in sy nagtelike worsteling erken dat daar ’n Groter Krag is, terwyl sy eie fisieke krag verminder nie. Wat hier tref, is dat Dawid ook sy lewenskragte wil opbou “in die heiligdom”.

Sou ’n mens hierdie “in God se heiligheid” vandag kon vertaal met “daar waar gelowiges saam nadink oor God se teenwoordigheid”? Sou dit die gemeenskap van die gelowiges kon wees? Half huiwerig wil ’n mens vra: “Is dit die kerk”?

En net hier konfronteer die realiteit van MIV ’n mens: waarom sal sommige siekes – maskerloos – kan uitroep: “Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind”, maar ander siekes – gemaskerd – hul menswees moet kamofleer sodat mede-mens nie “mag weet nie”? Is die kerk inderdaad die plek waar énige mens, ongeag sy/haar woestyn-inhoud, tuiskoms kan ervaar, en hier – in die heiligdom – saam met gelowige medemense die praktiese realisering van God se mag en grootheid kan beleef? Of is die “die heiligdom” (lees: die kerk) dan tog die kritiese, simpatieklose, veroordelende, stereotiperende ruimte waarvan ons beskuldig word?

Met watter vrymoedigheid sou iemand vandag uitroep: die één plek waar ek God se mag en grootheid kan ondervind, is tussen gelowiges? Daar sal my dors geles word!

Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ’n gemeente die plek word waar mense, ongeag wat die inhoud van hul woestynervaring is, ’n ervaring kan kry van sorg, troos en ondersteuning?

 

Author: (Unknown)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *