Bible Book: Psalms
Chapter: 102
Verse: 1
Verse (to): 29

 

Ps 102 bevat ‘n ryke skat van belydenisse oor God. Verse 13, 27 en 28 getuig van God se ewige heerskappy. In verse 14, 18, 20 en 21 word die Here se genadige reaksie op die nood van sy volk beskryf. Die opskrif wat in die 1983 vertaling bo dié Psalm geplaas is, sluit hierby aan: “U is daar van geslag tot geslag” (vergelyk vers 25b).

Die opskrif wat ons in vers 1 kry, lui anders: “Gebed van ‘n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here” (1983 vertaling). Psalm 102 ís in die eerste plek ‘n klag-psalm. Soos die ander klag-psalms (behalwe Ps 88) word die klagte gevolg deur lof oor (aan) God. Hierdie lof val egter nie “uit die lug” nie – “this was hard won praise. It is praise that comes after the honesty of the pain, suffering and terror. If we can praise in that way it is truly praise that is pleasing to God” (D Ackermann).
Wanneer die gemeente Sondag na hierdie Psalm luister, is dit ‘n geleentheid om na die noodkreet van ‘n hulpelose persoon te luister. Ons kry ‘n kykie in die hart van iemand wat liggaamlik ly (verse 4-6), eensaam en verlate voel (verse 7-8), mense se reaksies as vyandig ervaar (vers 9), treur (vers 10), deur God verstoot (vers 11) en daarom die dood as naby beleef (vers12). Die luister na hierdie verse mag nie op die vlak van ‘n teoretiese lees en bespreking van die teks bly nie. Dit behoort die gemeente te bring by vrae soos:
·        Daar is waarskynlik persone onder ons wat met hierdie noodkreet identifiseer – hoor ons wanneer iets daarvan na die oppervlakte kom?
·        Indien hierdie gebed (van verse 2-12) vandag nie deur die lees van Psalm 102 in ons ore geklink het nie, maar deur die (hardop) gebed van ‘n kerkganger – hoe sou ons daarop reageer het?
·        Gesien in die lig van die omvang en impak van MIV en vigs in ons gemeenskap – waarom is daar nie meer klaggebede, soos in die Psalms verwoord, in ons eredienste nie?
·        Hierdie bidder kla dat mense hom/haar soos ‘n vyand behandel (vers 9) – sou dit moontlik wees dat mense ons optrede so ervaar?
Die noodkreet van Psalm 102 is nie alleen ‘n kreet om God se teenwoordigheid en genadige ingrype te ervaar nie, dis ook ‘n verlange om (weer) deel van die volk van God te wees. Lawrie se verwysing na Kraus in Buvton se PREEKSTUDIES (Advent 2003 tot Koninkrykstyd 2004), bladsy 318 help om hierdie verband raak te sien: “Tradisioneel kon die individuele ellendige troos vind binne die geloofsgemeenskap. God se verbond met Israel, waarvan die besit van die land, Jerusalem en die tempeldiens sigbare tekens was, was as’t ware die geloofsfondament waarop die bidder kon bou. Maar met die ballingskap het hierdie fondament begin verbrokkel. Kan die enkeling nog op God se hulp vertrou as die hele verbondsraamwerk uiteengespat het? Daarom gryp die enkeling in nood na profetiese beloftes oor die herstel van die hele geloofsgemeenskap. Die ellendige se toekoms is verweef met die toekoms van God se volk.”
Wat hier van Ou Testamentiese gelowiges beskryf word, is steeds waar van God se kinders. Dis ‘n “grondwaarheid” van ons menswees. Om liggaamlik te ly, is erg, maar om in eensaamheid te ly, om te ly as verwerpte, is veel erger. Dit is in die lig hiervan wat ons iets kan begin verstaan van die impak van MIV en vigs wanneer mense se reaksies daarop op soveel maniere tot stigmatisering en verwerping lei.
Die gedeelte van verse 13 tot 23 is meer as ‘n belydenis oor God. Dis eerder ‘n beskrywing van die hoop wat daar nog in hierdie hulpelose bidder se hart leef om saam met die gemeente God se ewige heerskappy en genadige ingrype te beleef. Versoening met die gemeente skep die ruimte waar die werklikheid van God se teenwoordigheid opnuut beleef kan word.
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *